Boskop Seiljagklub beloon presteerders
Verskeie Carletonvillers is ook deel van die klub en is vir prestasies beloon.
Die Boskop Seiljagklub (BYC) het onlangs hul jaarlikse prysuitdeling gehou en verskeie lede van die Carletonville-omgewing was onder die wenners.
Lede van die klub vaar op die Boskopdam tussen Welverdiend en Potchefstroom.
Carletonvillers het ook met pryse weggestap. Hans Mantz het die algehele tweede plek ingepalm en was ook die wenner van die Boskop Open-kompetisie, terwyl die 84-jarige Louis Mantz ook ‘n toekenning ontvang het. Marcel van der Hoek het die Herman Trophy gewen.
Behalwe vir die prysuitdeling is die klub se nuwe komitee ook tydens die geleentheid gekies. Van der Hoek is die “Rear Commodore” in die klub se bestuur.
Ander lede van BYC se bestuur kom van Potchefstroom, Johannesburg, Klerksdorp, Stilfontein en Parys.
Nóg ‘n klublid van Carletonville, die bekende Michael Robinson, is tans die voorsitter van die sport se nasionale beheerliggaam, SA Sailing.
Die klub is in die winter besig met instandhoudings- en nuwe projekte. Die nuwe seilseisoen begin weer in die lente. BYC beplan ‘n klubresies in September en gaan weer op 26 en 27 Oktober de Boskop Open Regatta aanbied.
“Die beste geleentheid wat ons in hierdie land het, is om jongmense te leer hoe om positiewe en aktiewe lede in die land te wees. BYC probeer dit doen deur seil te bevorder,” sê die klub se woordvoerder, Anneke van der Walt.
Die klub is ook op FB en Instagram, en diegene met navrae kan Heidi van der Walt by 082 902 8032 skakel of by boskop.y.club@gmail.com epos.