Fochies se gholfdag ‘n groot sukses
Die skool het self 'n span gehad wat deelgeneem het.
Hoërskool Fochville het op Vrydag, 8 November hul gholfdag by die Goldfields West Private Gholfklub gehou.
“Daar word altyd gesê, dat as daar die dag voor jou troue ‘n storm is, jou huwelik geseënd gaan wees. Dieselfde kon beslis van Hoërskool Fochville se gholfdag gesê word. Donderdag se erge reën het nie net almal se gebede verhoor nie, maar het ‘n groot seën oor Vrydag se gholfdag uitgespreek,” sê die skool se woordvoerder, Elsabe de Mesquita.
Van vroegoggend af het al die borge die gaatjies wat hulle geborg het begin regkry vir die groot dag. Spelers is behoorlik bederf en die borge se kreatiwiteit het geen perke geken nie. Die twee broers Quintin en Wickus van den Berg het as wenners uit die stryd getree en Louis Fourie was die gelukkige wenner om ‘n splinternuwe gholfsak wat uitgeloot was te wen. Soos gewoonlik het die prysuitdeling vir ‘n prys aan elke speler gesorg en die veiling daarna het almal op die punte van hul stoele gehad.
“Ons kan nie genoeg dankie sê vir elke borg wat hierdie dag moontlik gemaak het nie. Of dit nou ‘n gaatjie of ‘n prys is wat geborg is, julle was ongelooflik. En natuurlik vir elke speler wat ons ondersteun het, het ons groot waardering. Sonder julle sou die dag nie moontlik gewees het nie,” sê De Mesquita.



