Boer dood na plaasaanval
’n Geliefde en bekende boer ivan Noordwes is Dinsdagaand tydens ‘n plaasaanval omstreeks 19:35 in die bors geskiet. BC Greyling (59) is op die toneel dood.

’n Geliefde en bekende boer in die omgewing, is Dinsdagaand tydens ‘n plaasaanval omstreeks 19:35 in die bors geskiet. BC Greyling (59) is op die toneel dood.
Sy ma, Magdaleen Greyling (81)het onder ’n tafel weggekruip terwyl plaasaanvallers haar seun doodgeskiet en haar skoondogter, Marlette (57) gewond het.
“Tannie Magdaleen is ongedeerd, maar erg getraumatiseer,” het Carín Visser, wat 35 jaar bevriend is met haar skoondogter, Woensdagoggend gesê.
“Die dokter sê dis ’n wonderwerk dat Marlette so lig daarvan afgekom het,” het Visser, ook DA-koukusleier in die Sannieshof-omgewing, gesê.
“Die koeël is by haar regterblad in en aan die linkerkant van haar maag uit, sonder om haar hart, longe of belangrike are te tref.”
Die polisie het teen Donderdagoggend nog na die aanvallers gesoek, maar die Greylings se gesteelde Toyota Hilux-bakkie is laat Dinsdagnag in die Ottosdal-omgewing gevind.
Volgens Visser het drie gemaskerde mans Marlette, BC en Magdaleen Dinsdagaand oorval terwyl hulle gesit en eet het. “BC het ’n slag teen een van die vensters elders in die huis gehoor. Hy het opgestaan om te gaan ondersoek instel, toe hy hom in die rowers vasloop en hulle hom skiet. Hulle het Marlette rondgeruk en -gepluk en geld gevra. Sy is gedwing om die kluis oop te sluit, waaruit hulle drie selfone en wapens gevat het. In die proses is sy geskiet.”
Marlette het ondanks haar skietwond na haar skoonma gaan soek ná die aanval. Sy het haar in ’n tafel onder die huis gevind waar sy weggekruip het. “Marlette het ook hulp op haar selfoon ontbied, maar BC was reeds dood toe die veiligheidsmense minute later by die huis aankom.” BC is twee keer geskiet.
BC en Marlette Greyling vroeër op die troue van hul seun Christo, en skoondogter, Nelmarie. Foto: Facebook.
Marlette word in die Anncron-hospitaal in Klerksdorp behandel. “Sy is baie geliefd in die gemeenskap en lag altyd. Jy hoor haar nog voor jy haar sien. BC was plat op die aarde en het in goeie verhoudings geglo. Hy sou nooit eers iets slegs van ’n ander sê nie.”
BC het met skape, beeste en gesaaides geboer op die familieplaas sowat 12 km buite Sannieshof. Hy en Marlette se twee oudste seuns, Gerhard en Marius, woon in Kanada waar albei boer. Hulle is op pad na Suid-Afrika ná die nuus oor hul pa en sal na verwagting Donderdagaand op die O.R.-Tambo-lughawe land. Die Greylings se jongste seun, Christo, boer naby Ottosdal. “Ek het op 28 April ’n kleinkind in Australië gekry en Marlette se kleindogter is dieselfde dag in Kanada gebore,” het ’n hartseer Visser gesê. “Ons is uitgelewer op die plase, die polisie het eenvoudig nie die kapasiteit om ons te beskerm nie.”
Marius Müller, nasionale veiligheidskoördineerder van AfriForum, gesê plaaswagte, buurtwagte en boere van Klerksdorp, Ventersdorp, Coligny en Lichtenburg het Dinsdagaand almal gehelp om paaie toe te maak nadat AfriForum die nuus oor die aanval versprei het. “Dis belangrik wanneer inligting deurkom, om te sê presies wanneer en waar die aanval gebeur het.”