Morries die wêreldkampioen
'n Bekende siggestremde rolbalspeler van Fochville is onlangs as die nuwe wêreldkampioen gekroon.
Salome Morries (67) was deel van die Suid-Afrikaanse span wat van 25 Februarie tot 20 Maart aan die IBBA (International Blind Bowls Association) se wêreldkampioenskap deelgeneem het.
Dié byeenkoms, wat net elke vier jaar gehou word, is vanjaar by Tweed Heads aan Australië se “Gold Coast” gehou.
Siggestremde rolbalspelers van agt lande, Suid-Afrika, Australië, Nieu-Seeland, Engeland, Israel, Maleisië, Skotland en Hong Kong het kragte gemeet.
Morries het as wenner van die dames-enkelskompetisie in die B4-afdeling uit die stryd getree na sy ‘n speler van Australië in die stof laat byt het.
“Ek het dit eintlik nie verwag nie. Ek het in die eerste wedstryd met ‘n punt teen ‘n Australiër verloor. Dit het gereën en die balle waarmee jy speel word nat,” vertel Morries.
Hoewel Morries in die B4-afdeling vir spelers met die beste sig speel, het sy net meer as 20 persent visie, met tonnelvisie daarby.
Hoewel sy al verskeie keer nasionale kampioen was en in 2011 die silwermedalje tydens die wêreldkampioenskap gewen het, is dit vanjaar die eerste keer wat sy die goud huis toe gebring het.
Morries is op die baan deur Debbie Fitzpatrick van Florida-Noord, die visepresident van die vereniging vir siggestremde rolbalspelers in Sentraal-Gauteng, bygestaan.
“Dit is lekker om te wen en ‘n groot eer om jou land te verteenwoordig,” sê Morries.
Morries se stem is vir baie inwoners bekend omdat sy tot met haar aftrede by die skakelbord van die Merafong City Plaaslike Munisipaliteit gewerk het.
Morries het al haar prestasies bereik ondanks die feit dat sy in 2014 ‘n nieroorplanting moes ondergaan.




