BlogsNewsNewsOpinions

Ongemanierde duiwe by die Uniegebou

Dit was harde werk, maar eintlik het ons dit baie geniet, al het die duiwe so knaend op die stoele ge-met-permissie-gesê, geblerts.

Dit was middel 1999 en tyd vir die president om ingehuldig te word. Staan ek en Dries die oggend na ‘n vergadering by die Uniegebou rond toe die departementele projekbestuurder verbykom. Hy het ons goed geken.

“Nee, hier staan ons nie. Hier werk ons. Gaan help met die stoele.” Ons was beamptes, hy was ‘n direkteur. Dus … Ons het stoele aangedra, stoele skoongemaak, stoele met plastiek oorgetrek – die duiwe by die Uniegebou het mos geen maniere nie – vlae gehys en die klas van goete. Weke se voorbereiding.

Die stoele in plastiek gehul, want die duiwe het nie maniere nie.

Dit was ‘n besonderse ondervinding. Ek onthou die aand wat ons adjunkdirekteur opgedaag het met haar braaipan onder die een arm en ‘n mandjie gelaai met kos in die ander.

Sy het in die aande na werk kom help. Soos toe die landsvlae moes op. Jy weet daardie wat so skuins hang daar bo in die amfiteater. Maar die wind by die Uniegebou het nog minder maniere as die duiwe wat heeldag op die stoele blerts, karring die vlae om die pale en hoe gaan dit nou op TV lyk?

“Loop kry vir my van daai gewiggies wat die vissermanne gebruik,” sê sy toe ons moedeloos al by ons skoensole sit. Werk sy wraggies die sinkers in die some vas en daar hang die vlae perfek! (Ek weet mens is nie veronderstel om so met ‘n landsvlag te karring nie, maar dit was ‘n noodgeval.)

Ons en die tuinboukundiges het amper ‘n groot geveg gehad. Hulle het buite om die vlagpale plantjies gaan pak. Sodat dit mooi lyk sien, die ou blommetjies.

Maar ons moes die vlae hys. Die plantjies was in die pad, toe skuif ons dit weg, maar vergeet om dit terug te pak. Was daardie tuinboukundiges vir jou kwaad! (Alhoewel, ek dink daai kwaad was aansit, want ek is later met een van hulle getroud.)

Laatmiddag voor die inhuldigingsdag is die verhoog klaar. Ons moet die stoele bring. Dit was die grênd, swaar houtstoele wat daar doer onder op die verhoog moes kom.

Verhoog synde nou die glaskas wat hulle bo-oor die fontein gebou het. Dié het tot ‘n rooi tapyt in, wat pas gewas was. So kom ons met die sware stoele die trappe af. Kom jy onder by die verhoog, dan moet jy eers skoene uittrek, voordat jy die stoel kan indra.

Laatnag by die huis gekom. Twee uur die volgende oggend meld ons weer vir diens aan. Al daai baie stoele se plastiese oortreksels moes afkom en die stoele moes presies waterpas staan.

Die dag na die inhuldiging was ons besig met operasie opruim toe ons hoor die president gaan sy nuwe kabinet aankondig. Ek was redakteur van die departementele koerant. Ons gryp ID-kaarte en storm vir die mediakonferensie.

Ons was bietjie aan die vuil kant tussen al die ander netjies gekledes. “Gelukkig ken min mense ons hier,” sê ek nog. Ag ja, daar besluit die TV-kameraman om op ons te fokus. “Jou hare was bietjie deurmekaar,” was my ma se enigste kommentaar die aand nadat sy nuus gekyk het.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button