‘n Groot hoop vullis is die afgelope Sondag, 2 Oktober in ‘n oop veld in Viljoenstraat in Potchefstroom gestrooi.
Een van die inwoners het beeldmateriaal van die vullisstorting op kamera vasgelê.
Die skuldige party is glo een van die inwoners in Miederpark wat op Sondagaand, 2 Oktober omstreeks 19:59 haar vullis daar gestrooi het.
Vier mans het toe Maandagmiddag (3 Oktober) die vullis om 15:00 verwyder nadat die skuldige op kamera vasgevang is.
Van die inwoners wat oorkant die veld bly, noem dat hierdie tipe onwettige rommelstrooiing ‘n nadelige effek het omdat dit eerstens onhigiënies is en tweedens ook die area onnet laat voorkom.
“My katte het ook intussen meer rotte en muise gevang wat heel moontlik as gevolg van die vullisstorting is,” noem een van die inwoners, wat verkies om anoniem te bly.
“Hulle bene is nou geroer na hulle vullis gestort het. Ek is seker hulle sal nou twee keer dink voor hulle weer vullis stort. Dit het hulle omtrent 10-12 swartsakke gevat om alles op te tel,” noem sy.