Local newsNews

Verlam in Driehoek-brugramp; nou wag nuwe hoofstuk op Shamoné

"Ek is bly as ek mense kan inspireer, al beskou ek myself nie as 'n rolmodel nie."

Vier jaar gelede, op 1 Februarie 2019, het Shamoné Steynvaart se tienerlewe ‘n dramatiese wending geneem toe sy in die brugramp by Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark verlam is. Vandag is sy voor ‘n nuwe hoofstuk in haar lewensverhaal: Sy het haar matriek met universiteitsvrystelling geslaag en gaan die nuwe uitdagings wat voorlê, met geesdrif aangryp.

Shamoné het ‘n spinale besering in haar laerug opgedoen toe die Driehoekbrug val. Sy is van haar naeltjie af verlam en het ook ‘n slegte breuk in haar linkerpolsgewrig opgedoen, wat verskeie operasies vereis het. Na maande in die hospitaal en in ‘n rehabilitasiesentrum waar sy soos ‘n baba van nuuts af moes leer om by haar nuwe omstandighede aan te pas, was sy uiteindelilk gereed om huis toe te kom.

Dit was ‘n moeilike en emosionele tyd maar haar familie – veral haar ma, oupa en ouma – het haar gemotiveer om deur die eerste stormagtige fases te kom. Haar verlies aan mobiliteit was bitter swaar, maar die verlies van haar beste vriendin, Marli Currie, was erger. Die twee skoolmaats het die oggend langs mekaar gestap toe die brug instort. Marli het op slag langs Shamoné gesterf.

“Ek was kwaad oor wat gebeur het want dis deur nalatigheid dat soveel kinders in die situasie geplaas is waar hulle beseer is of hul lewe moes opoffer. Ons het dit nie verdien nie,” sê Shamoné.

“‘n Mens sal nooit heeltemal kan aanvaar wat gebeur het nie, maar jy moet aangaan. Die lewe wag nie op ‘n mens om op te vang nie. Party dae wens ek dat ek nog kon loop, maar ek is tevrede met my situasie, al is dit nie die lewe wat ek graag sou wou gehad het nie.”

Shamoné het reeds in daardie begindae in die hospitaal besluit dat sy haar skoolloopbaan gaan voltooi, kom wat wil. Sy het einde verlede jaar aan die Shalom Akademie in Vanderbijlpark gematrikuleer en haar vakke, Afrikaans, Engels, Wiskundige geletterdheid, Lewensoriëntering, Lewenswetenskap, en Gasvryheid en Toerisme met universiteitstoelating geslaag. Vanjaar wil sy ‘n bietjie terugsit en aandag aan haar innerlike self gee, en volgende jaar wil sy graag haar vlerke sprei en die universiteit aandurf –  verkieslik vir ‘n graad in Drama.

Haar familie en vriende ken haar as ‘n baie saggeaarde en liefdevolle soort mens, maar ook as iemand wat doelgerig is en positiwiteit uitstraal. Daarby het sy van nature empatie met ander. “Ek geniet dit om myself in iemand anders se skoene te plaas. Toneelspel gee my die geleentheid om die wêreld uit iemand anders se perspektief te verken,” sê sy.

Sy put groot genot daaruit om na flieks en TV-reekse te kyk en die akteurs se tegnieke te bestudeer. Sy let veral op die klein nuanses wat hulle gebruik om ‘n karakter eg en geloofwaardig uit te beeld.

Sy is nie net mal oor mense nie maar is ook ‘n groot diereliefhebber en dit is duidelik dat haar hondjie, Roxy, ‘n ereplekkie in die middel van haar hart het.

Shamoné het die afgelope vier jaar ‘n rolmodel vir baie van die brugbeseerdes geword, maar sy is ook reeds ver buite die Vaaldriehoek bekend as ‘n inspirasie vir ander wat fisies gestremd gelaat is of op ander maniere by moeilike omstandighede moes leer aanpas.

“Ek is bly as ek mense kan inspireer, al beskou ek myself nie as ‘n rolmodel nie. Ek is net Shamoné, en trots op hoe ek my lewe weer op koers kon kry en by my nuwe omstandighede kon aanpas,” sê sy.

 

Shamoné Steynvaart (regs) saam met een van die ankers in haar lewe, haar ma Charmaine.

 

Verlam in Driehoek-brugramp; nou wag nuwe hoofstuk op Shamoné

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Adele Louw

Adele has been in the community media since 1997, first in Mpumalanga and since 2008 in Gauteng, and is passionate about giving a voice to residents of all communities.

Related Articles

Back to top button