CrimeLocal newsNews

Freitag moord: Bekendes van Bela-Bela vasgetrek

Dit gons behoorlik aanlyn en in die dorp nadat twee bekende inwoners van Bela-Bela Dinsdagoggend, 16 Julie in die Sabie-omgewing in Mpumalanga deur die polisie vasgetrek is in verband met die moord op die voormalige wêreldkampioen in hoogspring, Jacques Freitag.

Prokureur, Steve Hefferman het Woensdagoggend aan Die Pos gesê Rudolph (Rudie) Lubbe (53) en Chantelle (ook bekend as Shantellé) Oosthuizen (42) is Dindagoggend omstreeks 10:00 deur die polisie in hegtenis geneem. Hulle is laataand na Pretoria gebring.

Jacques Freitag.

Hefferman verteenwoordig vir Lubbe en Oosthuizen. Lubbe en Oosthuizen wat bekende gesigte in die dorp is, is nie net die hoofverdagtes in die moordondersoek nie, maar na bewering ook betrokke by die erge aanranding en poging tot moord op Louis Harmse (31).

Hefferman het aan Die Pos gesê die klagtes sou Woensdag formeel teen Lubbe en Oosthuizen gebring word. “’n Borgaansoek sal nie met hul eerste verskyning geskied nie, wel later. Sy seun het my gister gekontak om te help.”

Lubbe se seun, Lenus, woon in Bela-Bela en hy is die eienaar van De La Reys, ’n eens gewilde kroeg en restaurant op die Thabazimpad buite Bela-Bela wat verlede jaar hul deure gesluit het. Dit is ook waar Oosthuizen, wat daar werksaam was, vir Harmse ontmoet het wat later tot hul verlowing gelei het.

Die gewilde De La Reys-bakkery en vraghouerwinkels word nie by Rudie Lubbe se sake betrek nie aangesien dit onafhanklike eienaars is wat op hul eie sake bedryf.

Lenus hou vol dat hy geensins by die beweerde aanrandings en moorde betrokke was nie. Hy glo ook in sy pa se onskuld en meen daar steek baie meer agter die storie as wat dit wil voorkom.

Hy wil hom egter nie daaroor uitlaat nie omrede hy nie oor enige “geregslyne” wil trap nie.

Harmse, nog ’n bekende gesig hier in Bela-Bela, was nog tot onlangs aan Oosthuizen verloof. Sy was glo voorheen in ’n 16 jaar lange verhouding met Lubbe.

Freitag was ’n gemeenskaplike vriend van Harmse en Lubbe.

Harmse het aan ’n Sondag-koerant vertel hy is op 13 Junie na die huurhuis van Lubbe in Montanapark, Pretoria waar hy glo in ’n lokval gelei is. Beloftes is aan hom voorgehou dat hy en Oosthuizen sal herenig en dan na ’n plaas vertrek waar Lubbe vir hom ’n werk gekry het, het Harmse vertel.

Hy vertel hy was die betrokke oggend in die woonstel op die erf waar hy en Oosthuizen sou oornag, toe Lubbe en Oosthuizen aan hom gesê hy moet homself solank tuismaak, terwyl hulle dwelms gaan koop.

Volgens Harmse is hy toe deur Freitag van agter bekruip en etlike kere met ’n baksteen oor die kopgeslaan. Hy is erg beseer en moes 240 steke kry.

Die agterkant van Harmse se skedel is so erg vergruis dat stukkies verwyder moes word. Harmse het eers in die Montana-hospitaal weer sy oë oopgemaak en is later ontslaan. Die voorval het hom in ’n rolstoel gelaat.

’n Klag van aanranding is op 1 Julie teen Freitag by die polisie in Thabazimbi ingedien. Die hoogspringer se lyk is op dieselde dag in ’n veld by die Zandfontein-begraafplaas in Pretoria-Wes ontdek.

Freitag het in middel Junie spoorloos verdwyn nadat hy in die klein ure van die oggend saam met ’n man sy ma se huis in Bronhorstspruit verlaat het. Hy het toe alleen by ’n gastehuis in

Pretoria-Wes oornag en is die volgende oggend te voet daar weg.

Die vermoede bestaan dat Freitag vermoor is omdat Harmse die huurmoordpoging oorleef het. ’n Gedenkdiens word Vrydag, 19 Julie vir Freitag gehou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button