In-en-om die huis

Huis koop: Defekte waarvoor jy moet uitkyk

Ongeag of jy ʼn ervare eiendomsbelegger is of iemand wat vir die eerste keer die mark betree, is die koop van ʼn eiendom ʼn groot belegging wat noukeurig oorweeg moet word, sê Adrian Goslett, streekdirekteur en HUB van RE/MAX van Suider-Afrika.

“Die aankoop van ʼn eiendom kan ʼn groot impak op jou finansiële welstand hê, en dit is dus noodsaaklik dat jy verby die kosmetiek van die eiendom moet kyk. Op die oog af kan ʼn huis pragtig wees maar daar kan verborge kwessies wees wat jou baie aan herstelwerk kan kos as dit geïgnoreer word. Hoewel daar van verkopers vereis word om jou te voorsien van ʼn lys defekte waarvan hulle bewus is, is dit beter om bewus te wees van sekere aspekte as ʼn eiendom besigtig word,” is Goslett se raad.

Hier is ʼn paar elemente waarvoor mens op die uitkyk moet wees:

Verrottende hout

As hout wat nie behoorlik in stand gehou word nie dikwels aan vog blootgestel word, soos in kombuise en badkamers, sal dit met verloop van tyd verrot. Die hout moet geverf word of behandel word met ʼn afwerking wat spesifiek vir dié doel ontwerp is. Buitenshuise houtelemente soos dekke of afwerkings moet ook nagegaan word omdat hulle aan die elemente blootgestel word.

Gevaarlike relings

Maak vanuit ʼn veiligheidsoogpunt seker dat alle relings op dekke, trappe en balkonne stewig vas is en dat nie een weg is nie. Onstabiele of onveilige relings kan baie gevaarlik wees.

Ventilasie

Toereikende ventilasie is nodig om seker te maak dat enige vog in die huis kan verdamp.

As daar vir ʼn lang tyd water of vog in ʼn area aanwesig is, kan dit probleme veroorsaak. Die ruimte tussen die dak en die plafon is ʼn aspek wat spesiale aandag  moet kry omdat die ventilasie in hierdie area verseker dat die dak lank sal hou. Syfergate en ventilasiepype sal die intense hitte in daardie ruimte laat ontsnap, wat die vog sal laat verdamp en seker maak dat die binnemure en struktuurelemente droog bly.

Dakkwessies

Wees op die uitkyk vir ou, gebreekte of vermiste teëls op die dak wat vervang moet word, of vir roeskolle op sinkdakke. ʼn Beskadigde of lekkende dak kan probleme binne die huis veroorsaak wat duur kan wees om reg te maak ─ om nie te praat van die koste om die dak reg te maak of te vervang nie.

Dreinering en waterbeheer

Swak dreineerstelsels buite-om die huis kan water- en vogprobleme in laagliggende areas rondom die eiendom veroorsaak. Waterdeurdrenkte areas kan maak dat vog indring en die struktuur van die fondament kompromitteer as dit aanhou. Maak seker dat alle dreineerareas ʼn behoorlike helling het en water weg van die huis af lei. Kontroleer ook dat waterbeheerelemente soos geute en geutpype goed in stand gehou is.

Doen-dit-self-herstelwerk

Dis nie altyd maklik om raak te sien nie, maar huiseienaars wat lank in ʼn huis gewoon het, sou probeer het om self herstelwerk te doen. Kyk na die loodgieterswerk en elektriese areas want dit is waar DDS-werk die meeste voorkom.

“ As jy twyfel oor iets, laat ʼn professionele inspekteur na die huis kyk en aan jou terugvoer gee voordat jy op die stippellyn teken,” is Goslett se slotwoorde.


Bron: Solidariteit

HOUSE REPAIR LIFE HACKS YOU SHOULD KNOW!

COMMON DIY PROBLEMS AND FIXES

21+ HOME DECOR IDEAS FOR RENTERS

Back to top button