Fokus op haarkappers
Haarstyle wat die koppe laat draai
MOOI EN MAKLIK
Absolut Hair in Modimolle se eienaar, Anneke Rietchard, en haar kollega, Sunita Olivier, hou baie van die Jane Fonda-haarstyl. Dit is ’n meerdoelige styl wat pas by alle ouderdomme. Dit is sag, modern en kan maklik tuis versorg word, het min onderhoud nodig en dit lyk of ’n mens pas uit die salon gestap het.
BALANS IS ALLES
Vir Herman Niewenhuis en Kristi-Anne Fourie, STUDIOH in Modimolle se haarstileerders, is die konsultasie met enige kliënt die belangrikste beginpunt: die haarstyl en kleur moet kan aansluit by die kliënt se gesigvorm, vel en lewenstyl. STUDIOH bied ook een van die beste haarsorgreeks, System Professional, aan en is die enigste goedgekeurde verkoper in die Modimolle-omgewing. Vir STUDIOH is die toestand van kliënte se hare en kopvel baie belangrik, daarom doen hulle ’n deeglike digitale konsultasie om die beste raad en nasorg te verskaf. Kleurveranderings en “colour corrections” is altyd vir dié dinamiese span ook ’n lekker uitdaging.
KLIËNTEDIENS IS BAIE BELANGRIK
Nici Stolp en haar span by Creative Hair is bekend vir hul moderne aanslag met styl en kleur. Hulle doen gereeld haarverlengings vir kliënte. Nici sê die geheim is om ‘n verhouding met jou kliënt op te bou sodat daar wedersydse vertroue en respek vir mekaar is.
VOEL SOOS ’N ‘CELEBRITY’
Salon Amelia in Modimolle se haarstileerders sê die “halo” styl is steeds baie gewild by vroue. Met dié styl is die wortels donker en die punte ’n ligter kleur met ’n paar ligte “highlights” tussenin soos die van Jennifer Lopez. Die manskliënte verkies steeds “precision styling”. Dié salon bied ook behandeling vir haarverlies aan.
IMMERGROEN!
Volgens die span by Salon Marieta in Modimolle is die “lob” (lang bob) tans die gewildste haarstyl en dit word dikwels gekombineer met die balayage kleurstyl.
KIES ’N STYL WAT PAS
Stefan, die eienaar van Juncta Salon, sê hy is beslis ‘n voorstander van individualisme. Hierdie ervare haarstilis van Pretoria het onlangs na Modimolle verhuis. Hy wil ‘n pad saam met elkeen van sy kliënte stap en vir elkeen haar eie styl ontwerp wat by haar persoonlikheid, gesigvorm, haartipe en lewenswyse pas. Kliënte moet maklik hul unieke styl tuis kan versorg.
Die Pos / The Post
KRULLE MET OEMF!
Amanda Humphreys van Cut n Jayd-salon in Bela-Bela is gek oor die sangeres Pink se kort, krullerige, formele haarstyl. Die hare is ’n ligte platinumblondkleur en haarverlengstukke word gebruik om volheid aan dié styl te gee. Die haarstyl is nie moeilik om te onderhou nie en Cut n Jayd se bekwame span sal dit baie professioneel vir kliënte kan doen.
DIE KORT EN LANK VAN NUUTSTE STYLE
Suzanne Kotze van Bela Vino Hair & Beauty in Bela-Bela sê die fiksheidsmodel Michelle Lewin se haarstyl is vir haar baie besonders. Kort blonde hare met haarverlengings is die nuwe neiging, sê Kotze. Kyk veral na die voor en ná foto’s van Lewin om self te sien watter groot verskil die regte haarverlengstukke kan maak. Kliënte wat lus is vir ’n ander gewilde styl, die “up-style” met kleurstukke in, moet gerus ook daar ’n draai maak. Verder is hulle Brazillian Blow Wave, wat wilde hare tem, steeds baie gewild.