Fokus op Mookgophong
Mookgophong is ’n dorp wat kán
Mookgophong (voorheen bekend as Naboomspruit) is op die oog af ’n rustige dorp met boomryke strate, maar in die bergagtige omgewing wat die dorp omsoom, is daar van die mooiste vakansieoorde, luukse lodges en wildplase in Limpopo.
Die dorp het in 1907 op die plaas Vischgat ontstaan en werksaamhede het aanvanklik rondom die spoorwegstasie gewentel.
Met die ontdekking van minerale, tin en fluoriet in die 1900’s in die omgewing, het die dorp baie gegroei. Daar word steeds op klein skaal met van dié minerale gemyn.
Daar is ’n lang lys toeristebestemmings wat op die drumpel van dié dorp aangetref word waaronder ’n wêreldklas gholfbaan, warmbronne, stap- en fietsroetes en die Nylsvley-wêrelderfenisgebied wat jaarliks besoekers van heinde en ver lok.
Gesels ’n mens egter met die dorp se inwoners is almal dit eens dat dié dorp se mense by verre die grootste skat van rykdom is.
Waterbergers ken nou al die dorp se mense as uitstekende organiseerders en vasbyters.
Die voorsitter van die Naboom-sakeforum, Mokone du Preez, is passievol oor sy grootworddorp en is trots op wat dié gemeenskap reeds verrig het. “Dink maar net aan die jaarlikse Hansie- en Bokkieweek wat deur die plaaslike hoërskool, Hoërskool Hans Strijdom, gereël word en jaarliks duisende besoekers na die dorp lok. Die Hansieweek is boonop die grootste skolerugbyweek ter wêreld. Dié twee sportweke sorg vir ’n ekonomiese inspuiting van ongeveer R10 miljoen per jaar vir die dorp.”
Du Preez wys op bykomende positiewe punte wat in Mookgophong se guns tel: Challenger (wat sleepwaens en karavane vervaardig) is in die hoofstraat, die dorp se KFC is een van die besigste winkels in die land, Waltkon is ’n groothandel-abattoir wat aan groot dele van Limpopo vleis lewer, die Euphorbia-gholflandgoed het ’n wêreldklas gholfbaan. Total, Wimpy, Debonairs, MBT Vulstasie en Naboom Toyota in die dorp is reeds opgradeer en Caltex (langs Wimpy) word tans opgegradeerd.
Die dorp spog met een van die mooiste Obaro-takke in die provinsie en daar word nog verdere uitbreidings by Die Oog-aftreedorp beplan (400 huise).
Du Preez wil graag sien dat hierdie “positiewe energie” in die dorp nog verder momentum kry en hy droom oor groot planne vir Mookgophong.
Hy glo dat indien alle rolspelers in ’n dorp saamstaan en hul eie belange opsy skuif, ’n mens uitdagings soos swak dienslewering in plattelandse dorpe kan nek omdraai. Inwoners en sakelui behoort eerder te fokus op ekonomiese groei, veiligheid en die volhoubaarheid van ’n dorp as op politieke en ideologiese verskille, sê Du Preez.
Du Preez het baie ysters in die vuur en buiten sy leiersrol in die dorp se sakegemeenskap is hy ook eienaar van ’n plaaslike supermark, buffelteler, ondervoorsitter van die plaaslike gemeenskaps-polisiëringsforum (GPF), asook van die Modimolle-streek (cluster) wat samewerking met polisiestasies insluit.
Hy sê hy het nie tyd vir negatiwiteit nie en glo dat ’n mens enigiets kan verrig as jy positief is.
Juis daarom glo hy “Mookgophong kán” en dat ’n mens dié dorp se ekonomie en infrastruktuur kan verbeter indien daar aan die volgende gemeenskapspilare gebou en in belê word:
- ’n Aktiewe sakekamer waarby inwoners, sakelui, gemeenskapsorganisasies én die landelike gemeenskap aktief betrokke is. “Die krag van ’n sakekamer en ’n positiewe sakegemeenskap moet nooit onderskat word nie,” sê Du Preez.
- Toerisme behoort die dorp se polsslag te wees. Dit beteken dat die toerismebestem-mings in en rondom die dorp aktief bemark moet word om Mookgophong die nommer een keuse vir besoekers in die provinsie te maak.
- Inwoners en besoekers moet veilig in ’n dorp en ook in die omliggende omgewing voel. Daarom is ’n goed georganiseerde GPF, wat die polisie se oë en ore is, onontbeerlik.
- Mense moet plaaslik ondersteun en om hulle aan te moedig om plaaslik te koop, moet die sakekern van ’n dorp opgeknap en verfraai word. Dit moet vir inwoners en besoekers lekker wees om inkopies te doen. Hulle moet trots daarop wees om in ’n dorp in te ry en daarom is eerste indrukke belangrik, is Du Preez se mening.
Die opknapping van die dorp is een van die projekte wat die sakegemeenskap reeds aangepak het.
“Tydens die onlangse Bokkieweek het die hele dorp saamgewerk om die dorp op te knap. Ek het reeds groot skenkings van onder meer plante gekry om die dorp nog verder te verfraai.”
Die eerste fase om Mookgophong reg te ruk is dus afgehandel, maar daar word reeds beplan aan die algehele opgradering van onder meer die hoofstraat. Die sakeforum benodig nog plante, verf en kontantskenkings vir dié projek, sê Du Preez.
Die verkiesing van die nuwe bestuur van die dorp se sakeforum vind op Dinsdag 28 Augustus by Naboom Gastehuis in Vyfde Straat 16 plaas. Sakelui en ander belanghebbendes word genooi om die geleentheid by te woon en ’n bestuur te kies wat die belange van Mookgophong se inwoners op die hart dra en die visie het om dié dorp op alle terreine uit te bou. Dit is ook ’n gulde geleentheid vir nuwe lede om by die sakeforum aan te sluit.
Daar sal twee sprekers by die vergadering optree wat onderskeidelik sal gesels oor toerisme en die voordele van optiese kabels.
Ter wille van beplanning, word mense wat die vergadering wil bywoon, versoek om vooraf te bespreek. Bel vir Du Preez by tel. 082 550 7234 of stuur ’n e-pos na mokone.mdp@gmail.com(.)
Hierdie fokusblad is met trots geborg deur die volgende sakeondernemings en gemeenskapsorganisasies in Mookgophong: OK Foods, Naboom Gastehuis, Waterberg Drankwinkel, Euphorbia Drankwinkel, BuildIt Naboom, Hoërskool Hans Strijdom en Bron Apteek Naboom.