Jarelange Bela-Bela-inwoner, Ivy Coston, het ’n baie spesiale Paasnaweek gehad toe sy op Saterdag 20 April haar 80ste verjaardag saam met vriende en familie in die dorp gevier het. Op die foto in die middel is Coston omring deur haar hartsmense, wat toegesien het dat haar dag meer as spesiaal was.
Die inwoners van die Tuiste vir Bejaardes in Mookgophong is baie dankbaar teenoor die lidmate van die Nederduits Hervormde kerk Mookgophong vir die baie welkome skenking van 20 nuwe matrasse. Hercules Louw (links), bestuurder van die Tuiste vir Bejaardes, het gesê: “Hierdie skenking was manna uit die hemel, want die Tuiste en die inwoners het die matrasse broodnodig.” Saam met Louw op die foto is Lizette van Niekerk (matrone) en ds. Jan van Niekerk (plaaslike leraar).
Lede van die Vroue Landbou-unie se Soetdoringstreek het op Dinsdag 17 April ’n heerlike uitstappie na ’n reservaat buite Bela-Bela gehad. Hulle het tydens ’n wildsrit gesien hoe hiënas, leeus, jagluiperds en Bengaalse tiere gevoer word en meer gehoor oor dié diere se habitat, teling en leefwyse. Daarna het hulle aangesit vir ’n lekker ontbyt. Op die foto is van die VLU-lede saam met Hannes Wessels wat die toer gelei het.
Dans is goed vir ’n mens! Lede van die Settlers Vroue Landbou-unie (VLU) het op Dinsdag 9 April die geleentheid gehad om die heupe lekker ritmies te swaai. Wandi Botes van Wandi’s Dance Studio het die vroue vir ’n uur laat dans en in die proses ’n heerlike oefensessie ingewerk. Die vroue is dit eens dat dié oefening lekkerder is as om alleen te gaan stap. Op die foto is Ida Brits en Wandi Botes voor en in die agtergrond staan Carina Erasmus, Reinette Dykema, Mariana Oberholster, Linette van der Walt, Elize Taljaard en Marié Raath.
Die Dameskring van Modimolle het tydens hul Aprilvergadering drie nuwe lede tydens ’n gesellige geleentheid verwelkom. Die Dameskring vertrou dat hulle reeds tuis voel. Op die foto is die nuwelinge Marlien Botha, Marietjie van der Merwe en Riana Viljoen, saam met Alita Rose, voorsitter.
Rina Steynberg is by die Aprilvergadering van die Vroue Landbou-unie se Warmbad-tak as die eerste wenner van die Skitterlid-trofee aangewys. Steynberg het tydens die jaarlikse konferensie in Maart aan die naaldwerk-, kunsvlyt-, handwerk- en gebakafdelings deelgeneem en met haar prestasies die meeste punte in haar tak behaal. Sy is ’n waardige en verdienstelike wenner en ’n aanwins vir die tak.
A student from Lyceum College in Pretoria, Ishmael Omusu (20), is visiting for an observation period of a month at Laerskool Vaalwater. Omusu said he is from Ghana and feels blessed to have this opportunity to learn from those that have made a significant mark in education.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.