Soné Joubert, oudleerder van Laerskool en Hoërskool Warmbad en naaswenner van die gewilde werklikheidsreeks, The Voice South Africa, het op Sondag 28 Julie ’n spesiale opvoering in haar ou tuisdorp gehou. Joubert het tydens haar optrede by ’n restaurant in Bela-Bela gesê sy wil met dié opvoering dan-
kie sê aan elke inwoner wat haar ondersteun en vir haar gestem het. Sy het hoofsaaklik Afrikaanse treffers gesing. Foto: Herman Steyn
Die Lewensvreug Dienssentrum in Mookgophong het op Vrydag 26 Julie ’n suksesvolle musiekoggend as fondsinsameling aangebied. Die geleentheid is by die Naboom Tehuis vir Bejaardes gehou. “Wat ’n voorreg om gehalte musikante soos Jannie du Toit en Susan Mouton in ons dorp te verwelkom. Ons bedank ons borge en almal wat ons ondersteun het,” het Elriza Pienaar, een van die organiseerders, gesê. Op die foto is Du Toit, Estelle Viljoen van die Lewensvreug Dienssentrum en Mouton.
Raadslid Stoffel Seodisa en Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, het ’n oorsigbesoek aan die Waterbergstraatplaveiselprojek in Leseding gebring. Dié 1,2 km lange stuk pad wat tussen Leseding en Vaalwater loop, was in ’n baie slegte toestand. Volgens Van Staden het hulle die projekbestuurkomitee en veiligheidsbeampte ontmoet wat tevrede was met die vordering van die projek. Sy hoop dat die projek teen die einde van November voltooi sal wees.
Sommige van die kruisings in Mookgophong is só vol opgehoopte sand dat dit ’n gevaar vir motorryers inhou, kla ’n inwoner. “Voertuie gly by die stopstrate. Moet daar nou eers iemand beseer word voordat die sand verwyder word?” vra die leser.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.