CarsLocal newsMotoringNewsSport

Bakkies net waar jy kyk

Die pas afgelope Suid-Afrikaanse Bakkiefees wat hierdie jaar vir die eerste keer deur Trio Events op Sondela Natuurreservaat en Spa, buite Bela-Bela aangebied is, het alle verwagtinge oorstref en sal verseker weer gehou word.

Die Bakkiefees, eerste in sy soort, is van 1 tot 3 November gehou en selfs met die kwik wat diep in die rooi was met temperature van 40 grade Celsius, kon dit nie ware entoesiaste weghou nie.

Daar is 4×4-wildsritte aangebied met opgeleide gidse. Die adrenalien verslaafdes kon hul voertuie se staal toets op drie doelgeboude hindernisbane wat opgestel is deur André de Villiers van 4×4 met Andre wat op KykNet uitgesaai word, Ford en LA Sport.

Die LA Sport sleepwedloop en modder-hindernis het die meeste aftrek geniet en talle besoekers het hul bakkies kom toets teen ander deelnemers.

Volgens die organiseerder, Marius Opperman het hulle die behoefte vir die fees opgemerk na die suksesvolle Hankook Land Cruiser-fees wat hulle in Junie ook op Sondela aangebied het.

Daar was verskeie navrae van belangstellendes met ander fabrikaat voertuie as Toyota om ’n soortgelyke fees aan te bied.

Aangesien daar wye belangstelling in 4×4 ritte en buitelewe onder bakkie eienaars is, is die fees in die lewe geroep.

Ná afloop van die dag het ’n Amarok van Volkswagen die beste vertoon op die LA Sport-baan.

Toyota se opkoms het weer uitgestaan bo die res en 48% van die bakkies wat deelgeneem het, was uit die Toyota-stal.

Die Nissan-eienaars was maar skaars en het slegs 4% van die totale deelnemers verteenwoordig.

Na afloop van die dag se pret is die gaste vermaak deur die sangers Heidi en Ronaldo.

Die organiseerders was in hul skik met die opkoms vir die eerste Bakkiefees en het hulle die hoop uitgespreek dat die fees sal groei tot een van die grootstes in die land.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button