Lifestyle: Die Shack



Met die intrapslag by Die Shack by Tsekama Wedding Venue and Private Game Reserve is dit die rooi klavier in die hoek teen die muur wat eerste jou oog vang.
Die vertrek is ‘n lushof van interessante dekor en jou oë kuier tot waar Marinda Turvey rustig sit en jou nader wink met ‘n breë glimlag.

Marinda Turvey.
“Kom sit sommer hier en kry gou iets te ete en daar is lekker koffie,” kom dit van die formidabele vrou met die sagte stem. ‘n Mens voel sommer dadelik tuis en jy kan nie help om verstom te staan oor al die ongelooflike kreatiwiteit rondom jou nie.
Turvey is ‘n oudleerder van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong en het ná skool Kuns en Ontwerp aan die destydse Pretoria Technikon studeer. Sy het ná ses maande reeds die eerste keer in die koerant verskyn vir haar kunswerke. Modeontwerp, wat sy vir baie jare gedoen het, was deel van die studies en sy is bekend vir haar uitsonderlike skeppings.

Sy trou in 1984 met Willie Turvey en word ‘n boervrou op die Springbokvlakte. Hier leef sy haar uit in mode en kuns en in 2003 bou sy die pragtige Tsekama. Turvey kan egter nie stilsit nie en sy en haar suster, Elma van Blerk, het ‘n behoefte vir ‘n eetplek vir die trougaste wat vroeg opdaag en wat oornag gesien. “Nadat ek en Elma koffie gedrink het by ‘n plekkie in die Kaap, het ons besluit om Die Shack te bou. Dit was so twee jaar gelede. Ek het deur die jare baie boumateriaal versamel en het besluit om dit en sinkplate op die plaas te gebruik,” het sy vertel.


Die Shack is baie gewild vir gesellighede en kan 70 gaste huisves. Daar is verskeie skale in die vertrek wat haar gunsteling is en met ‘n vonkel in die oog vertel sy dat Willie dit vir haar gegee het. “Van die skale kom nog van sy pa af,” het sy gesê. Die pragtige lig wat uit die dak hang, is vol koppies en bekers wat sy een jaar vir haar verjaarsdag by al haar vriendinne gekry het. Turvey is ook ‘n bekwame kok wat dit geniet om haar gunstelinggereg, hoenderkerrie, te maak.

Sy is tans besig met ‘n projek om die huisies op hul plaas naby Sedgeville in die Kaap op te knap vir vakansiegangers. “Dit is baie lekker om alles te beplan en jouself uit te leef so sonder reëls en dan te sien dat al jou handewerk beloon word,” het sy verder vertel.
Dit is duidelik dat Turvey nog lank nie klaar is met droom en om drome waar te laat word nie. Met haar kreatiewe brein, wat oortyd werk, kan daar net nog vele projekte die lig sien. Sy is gaande oor haar ses kleinkinders en vertel entoesiasties van ‘n sewende wat op pad is. Sy en Willie het drie kinders wat almal getroud is.