Lifestyle: Kruie
Kruie is iets wat daagliks in die kospotte gebruik word, maar het jy al ooit oorweeg om jou eie kruie te plant en te gebruik eerder as gedroogde kruie?
Of om kruie vir huishoudelike of kosmetiese gebruik aan te wend?
Margaret Roberts was en is steeds een van Suid-Afrika se bekendste kruiekenners en het verskeie boeke oor kruie geskryf — hoe om dit te kweek en hul gebruike. In haar boek Alles oor kruie skryf sy dat ‘n mens eindelose genot uit die kweek van kruie sal hê. Sy gee ook kruie se verskeie gebruike van medisinaal tot kosmeties.
Volgens Roberts is roosmaryn ‘n bate vir elke tuin. Roosmaryn is ‘n geharde plant wat goed in die warm son aanpas. Hierdie krui benodig min water en versorging.
Roberts sê in haar boek dat roosmaryntakkies op die braaivleisvuur gestrooi kan word. Dit hou dan die insekte van die vleis af terwyl dit terselfdertyd die vleis geur.
Kosmeties kan roosmaryn gebruik word vir hare wat uitval. “Dit hou hare wat uitval in toom, stimuleer en verlewendig die hare,” skryf sy.
Volgens die webtuiste Organicfacts bevat vars roosmaryn heelwat vitamine en minerale, asook antioksidante.
Dit is ook ‘n kognitiewe stimulant wat ‘n mens se geheue verbeter en ‘n mens help om te fokus. Roosmaryn help verder om stres te verminder.
Laventel is ook ‘n krui wat bekend is vir stresverligting. Hierdie is ook ‘n krui wat met min water oor die wegkom en wat van droë, goed gedreineerde grond hou.
Hierdie krui help met ‘n goeie nagrus, verminder inflammasie en kan infeksies voorkom, volgens Organicfacts.
Die antioksidante in laventel verlaag die vlakke van streshormone in die liggaam en ‘n koppie laventeltee is net die regte ding om te ontspan.
Om ‘n koppie laventeltee te maak benodig ‘n mens vier teelepels vars laventelblomme, twee koppies water en een teelepel heuning na smaak.
Gooi die laventel in ‘n koppie en kook die water. Laat die kookwater vir ‘n minuut staan en gooi dit dan in die koppie met die laventel. Laat dit vir vyf minute trek. Volgens Organicfacts kan ‘n bord oor die koppie gesit word om die stoom binne te hou wat dit verder sal laat trek.
Roberts beveel in haar boek aan dat kruietee nooit met melk gedrink moet word nie en net met heuning versoet moet word. Verder is hierdie krui ook volgens haar ‘n vleisversagter en ‘n uitstekende marineermiddel vir wildsvleis. Om vleis te versag beveel sy aan dat die vleis, toegedraai in die blare, oornag in die yskas moet wees.
Orego, of beter bekend as oreganum, groei maklik in ‘n pot en het son nodig. Die Italianers is lief daarvoor om hierdie krui op pizza te gebruik en volgens Roberts kan orego vette in die liggaam oplos. Daarom sê sy dit is ideaal om by vetterige vleis te voeg.
Indien ‘n vertrek in die huis na rook stink, kan orego aan die meubels gesmeer word om die vertrek weer lekker te laat ruik, skryf Roberts. Vergeet van duur pille om jou hare aan die groei te kry, sy beveel aan dat oregoblare as ‘n haaropknapper en groeistimulant gebruik kan word. “Kook een koppie vars blare in een liter water (verkieslik reënwater) vir 15 minute. Laat dit afkoel en syg deur. Kam dit dan deur die hare en masseer dit in.”
Orego versterk verder jou immuunstelsel en help om jou metabolisme te versnel, volgens Organicfacts.
Die verskillende gebruike van kruie kan nuwe wêrelde laat oopgaan en die lekker van kruie is dit kan apart geplant word, tussen die blomme in jou tuin of in potte as jy nie ‘n groot tuin het nie. Bronne: Oragnicfacts.net en Alles oor kruie deur Margaret Roberts.