MunicipalNews

Nuwe tariewe in Bela-Bela styg aansienlik

Talle inwoners het aangedui dat hulle ontevrede is met dienslewering. Foutiewe straatligte, waterprobleme, swak paaie en kragprobleme is veral uitgesonder.

Die Bela-Bela-munisipaliteit se finale begrotingsvergadering het op Donderdagaand 26 April by Laerskool Warmbad plaasgevind nadat die vorige vergadering uitgestel moes word omdat te min inwoners opgedaag het.

Inwoners wat wél die vergadering bygewoon het, is van mening dat die syfers toon die “klein persentasie belastingbetalers wat die dorp geldelik dra, sal nou nóg meer moet opdok vir munisipale heffings”. Die nuwe voorgestelde tariewe tree op Maandag 1 Julie in werking.

Melvin Marutha, hoof- finansiële beampte van die munisipaliteit, het op die vergadering gesê die finale syfers sal teen Junie voltooi wees nadat die insette van alle inwoners in ag geneem is.
Inwoners het op die vergadering gevra dat daar gefokus moet word op die invordering van individue en instansies wat die meeste slegte- en agterstallige skuld het.

Marutha het gesê wanbetalers ontvang ’n kennisgewing, waarna hul dienste opgeskort word. Indien die rekening steeds nie vereffen word nie, word die rekening aan skuldinvorderaars oorhandig wat tot regsprosesse kan lei.

Talle inwoners het aangedui dat hulle ontevrede is met dienslewering. Foutiewe straatligte, waterprobleme, swak paaie en kragprobleme is veral uitgesonder.

Tinus Ras, DA-wyksraadslid, het gesê indien inwoners die verskoning by ’n munisipale verteenwoordiger of amptenaar hoor dat die munisipaliteit “nie geld het om probleme reg te stel nie”, moet hulle dit onverwyld onder die aandag van die wykraadslid of betrokke afdelingshoof bring.

“Sulke verskonings word meestal uitgedink deur mense wat nie wil werk nie. Dit is nodig om sulke stellings te bevestig, want stappe kan teen amptenare gedoen word wat daaroor jok,” het Ras gesê.

Johan Mills, voorsitter van die Bela-Bela-belastingbetalersforum (BBTF), het uitgevra oor eise teen die munisipaliteit waar vorige diensverskaffers hulle hof toe gesleep het weens beweerde wanbetaling en kontrakte wat stopgesit is. Mills het gesê hy is bekommerd dat dié sake die belastingbetaler negatief kan beïnvloed.

Angie Serote, munisipale regsadviseur, het in reaksie gesê die een saak van Fawcett Security is reeds deur die hooggeregshof met koste van die hand gewys. Dié onderneming is volgens haar in Februarie vanjaar gelikwideer en die munisipaliteit skuld dié onderneming tans niks meer nie.

Die saak rakende Dikala Plant Hire, wat glo deur die dorp se kontroversiële vorige munisipale bestuurder, Morris Maluleka, aangestel is om ’n nuwe vloot voertuie teen miljoene rande te voorsien, is steeds hangend. Dié kontrak is destyds summier stopgesit nadat daar glo ’n geskil tussen die vennote van die onderneming ontstaan het.

Michael Sello Makhubela, huidige munisipale bestuurder, het inwoners beïndruk toe hy gesê het dat die dorp se Eskom-rekening van R28 miljoen na R9 miljoen verminder is.

Betty Maswanganyi, tegniese bestuurder, het gesê ’n span mense is tans besig om aandag te gee aan stukkende straatligte in die dorp.

“Daar is sonder twyfel vir diensleweringkwessies in die begroting voorsiening gemaak,” het Marutha gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button