MunicipalNews

Raad vergader vir oulaas

Raadslede van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit het hul laaste raadsvergadering van die jaar op Maandag 9 Desember gehou.

Eerste op die sakelys was die goedkeuring van die tweede spesiale aanpassingsbegroting. Marlene van Staden, burgemeester, het aan raadslede verduidelik dat dit baie belangrik is om dit goed te keur omdat die nasionale tesourie die munisipaliteit se billike toedelingtoelaag kan weerhou. Die munisipaliteit is reeds meer as R500 miljoen in die skuld, met Eskom as die grootste skuldeiser. Die raad het die begroting aanvaar en die besuinigingsmaatreëls as aanbevelings aanvaar. Dit was die eerste befondste begroting wat die raad goedgekeur het sedert sy instelling in 2016.

Raadslid Johann Abrie wou weet wat die vordering is nadat klagtes teen van die amptenare gelê is ná die tesourie vroeër vanjaar’n verdoemende verslag oor die raad se finansiële toestand bekend gemaak het.

Die waarnemende munisipale bestuurder, dr. Melusi Mhlanga, het geantwoord dat die klagtes wel gelê is, maar dat die munisipaliteit nog nie ’n saaknommer ontvang het nie. Van Staden het bevestig dat sy by was toe die klag by die Valke gelê is.

Daar is ook tydens die vergadering bevestig dat die munisipale kantore vanaf Dinsdag 24 Desember om 12:00 tot Donderdag 2 Januarie sal sluit. Daar sal wel die nodige personeel aan diens wees om betalings te ontvang.

Raadslid Lucy Moruwe het daarop aangedring dat munisipale werknemers wat gedurende die feestyd aan diens is, gemoniteer word en dat ’n bestuurder aanteken dat hulle wel aan diens was. Hulle moet onmiddellik bereik kan word indien nodig. Van Staden het gevra dat ’n rooster aan alle raadslede gestuur moet word van watter personeellede aan diens is om die dorpe op te ruim en die gras by die ingange te sny omdat baie besoekers gedurende hierdie tyd deur die dorpe beweeg.

Mhlanga, asook Johannes Molekoa, hoof- finansiële beampte, is vir ’n verdere drie maande in hul poste aangestel. Die raad het gehoor dat onderhoude vir die pos van die bestuurder vir sosiale dienste ook die vorige week gehou is en ’n aanstelling binnekort gemaak sal word.

  • By verdere navraag oor die kriminele klagtes wat by die Valke gelê is, het Van Staden gesê sy is ingelig dat die Valke op ’n verdere verslag van die tesourie wag oor die forensiese ondersoek wat verskeie kontrakteurs en werknemers impliseer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button