MunicipalNews

Rekeninge reggestel – inwoners skrik toe rekeninge styg

Die drastiese styging in hul munisipale rekeninge het heelwat eienaars van plase in die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit die afgelope maand laat regop sit.

’n Groep inwoners in die Rhenosterpoort- en Sussenvale-gebied tussen Modimolle en Bela-Bela het besef dat hul grond, waarvan talle plase sowat 21 ha is, vanaf landbougrond na residensiële grond hergesoneer is. Volgens Alan Reid het van hulle se rekeninge vanaf R70 per maand gestyg na R1 200, wat vergelyk met rekeninge wat inwoners in die dorp betaal. “Ons aanvaar dat ons van die dorp se infrastruktuur gebruik maak, maar ons is self verantwoordelik vir die elektrisiteit en water op ons grond. Dit bring ook groot uitgawes mee,” het hy gesê.

Die munisipaliteit het vroeër vanjaar grondeienaars in kennis gestel dat hoewel die spertyd vir besware reeds in Junie 2019 was, hulle steeds kapsie kan maak indien hulle nie saamstem met die waardasie van hul eiendom nie.

Volgens ’n persverklaring word die waardasierol se proses deur wetgewing voorgeskryf. Dit bestaan uit eiendomsinligting van alle belasbare en niebelasbare eiendomme binne die grense van die munisipaliteit.

Die waardasierol is volgens wet aan ’n spesifieke datum gebind, nie later as een jaar van die datum van implementering nie. Alle eiendomswaardes is vasgepen op 1 Oktober 2018 en sal geldig wees tot Junie 2023. Waardes op die huidige rol kan enige tyd aangepas word.

“Dit beteken dat die eiendomsbelasting wat betaalbaar is in Desember 2019 die toename in waarde van eiendomme sedert Julie 2012 tot Januarie 2019 sal reflekteer. Die styging in tariewe en die aanpassing van sekere kortings sal ook ’n invloed hê op die bedrag betaalbaar,” lui die verklaring.

Talle inwoners het foute op die waardasierol gerapporteer.

“’n Groep grondeienaars het ’n afspraak met Marlene van Staden, die burgemeester gehad, en die probleem kon reggestel word,” het Reid gesê.

Plase in Olifantspoort tussen Modimolle en Mookgophong is ook deur die probleem geraak.

Gerhardt Breytenbach, ’n plaaslike prokureur, het gesê dat die wet voorsiening maak daarvoor dat munisipaliteite eiendomme kan herkategoriseer. “Die probleme wat die munisipaliteit gehad het, was dat daar nie voorsiening gemaak was vir die landbou/residensiële kategorie in die beleid oor belasting en tariewe nie. Om dit te wysig is deel van die begrotingsproses wat in die nuwe jaar sal plaasvind.

“Dit is belangrik dat inwoners op die plase deelneem aan die vergaderings oor die geïntegreerde ontwikkelingsplan (IDP). Hulle moet daarop aandring dat daar afslag moet wees omdat hulle nie dieselfde dienste geniet as diegene wat in die dorp woon nie. Die wet sê almal moet gelyk behandel word,” het hy gesê.

Van Staden het bevestig dat mense wat nie saamstem met die waardasies van hul eiendomme nie of wie se rekeninge buitensporig hoog is, die munisipaliteit kan kontak. “Die waardasies is deur ’n eksterne waardeerder gedoen – die munisipaliteit het nie self ’n waardeerder in diens nie. Ons het sy inligting op die stelsel gelaai.”

Diegene wat bekommerd is oor rekeninge wat skielik aansienlik hoër is, kan ’n ou en ’n nuwe rekening, sowel as ’n motivering hoekom daar fout is, stuur na hester@modimolle.gov.za(.)

Indien ’n inwoner verskil oor die bedrag waarvoor sy eiendom gewaardeer is, kan hy ’n amptelike waardasie deur ’n geswore waardeerder of bewys van waarde, indien die eiendom onlangs gekoop is, na dieselfde adres toe stuur, tesame met ’n motivering.

“Dit neem so twee weke om die klagtes te prosesseer,” het sy gesê.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button