Die rioolprobleem in Uitbreiding 5 en 6 in Mookgophong is op Donderdag 30 Julie op die spits gedryf toe die Menseregtekommissie (MRK) en die Groen Skerpioene die perseel vir die derde keer besoek het.
Volgens Kobus van Loggerenberg van die Vryheidsfront-Plus in die dorp het die party die MRK genader oor die probleem en het hulle binne 48 uur opgetree, vergesel van die Groen Skerpioene.
“Die VF-Plus sal nie toelaat dat belastingbetalers ly onder swak dienslewering nie en daarom het ons dringende ingryping versoek,” het Marcelle Maritz, leier van die party in Limpopo, op sosiale media geskryf.
ADVERTENSIE / ADVERTISEMENT
Die ondersoekspan, onder leiding van dr. Ilene Carter van die MRK, is na die Grootvalley-plase om die bewerings van rioolstorting te ondersoek. Die VF-Plus het daarna ’n klag van besoedeling by die plaaslike polisiestasie ingedien.
Etlike foto’s van die rou riool wat daar vloei, is as bewysstukke geneem.
“Ons verneem dat die dossier reeds by die polisiekantoor afgehaal is om strafregtelike klagtes teen die munisipaliteit te ondersoek. Hierdie probleem bestaan al sedert 2008 en is op verskeie geleenthede by die polisie, plaaslike munisipaliteit en die departement van omgewingsake aangemeld,” het Maritz gesê.
AfriForum het in 2013 ’n klag van besoedeling by die polisie in die dorp ingedien. Die dossier is sedert 2014 by die Nasionale Vervolgings Gesag (NVG) se eenheid vir omgewingsake,” het Philip van Staden van AfriForum in Mookgophong aan Die Pos gesê.
Volgens burgemeester Marlene van Staden is daar ’n nuwe rioolpompstasie gebou met geld wat deur die kantoor van die premier van Limpopo bewillig is. Die projek is in 2018 voltooi.
“Ongelukkig het dit absoluut niks gehelp nie. Die strukturele ontwerp van die rioolpompstasie is foutief,” het sy aan Die Pos gesê.
Van Staden het voorts gesê die munisipaliteit moet byna ’n jaar vooruit sakeplanne indien om goedkeuring vir befondsing van projekte te verkry. Daar is weer in 2019 bykomende sakeplanne ingedien en drie rioolprojekte is goedgekeur vir die Mookgophong-gebied. Dit sluit die verdere herstel van die Mookgophong-rioolaanleg in. Die projek maak ook voorsiening vir ’n nuwe heining, die skoonmaak van damme en die herstel van veiligheidsligte. Dit sluit ook die installering van bykomende pompe, ’n meganiese sif, die diens van al die toerusting en die herstel van die rioolinfrastruktuur in Uitbreiding 5 en 6 in.
“Die rioolprojekte is vir die huidige jaar goedgekeur. Die kontrakteur is reeds op die perseel en besig met fase een en twee van die projek. Volgens beplanning sal hy teen einde Augustus 2020 met fase drie kan begin. Die huidige boekjaar het eers op Woensdag 1 Julie 2020 begin. Ons projekte is aan die gang vir 2020/2021,” het Van Staden gesê.
Volgens haar is daar reeds in die vorige boekjaar geadverteer en kontrakteurs aangestel sodat hulle dadelik kon begin met die werk met ingang van die “nuwe” jaar.
“Ek besoek maandeliks al die projekte van die munisipaliteit en was verlede Vrydag by die rioolprojekte in Mookgophong en Roedtan,” het van Staden gesê.
Baie dankie aan Pavecon sonder wie se hulp die plasing van dié aanlynberig nie moontlik sou wees nie.