MunicipalNews

Munisipale werkers staak oor salarisse

Jamela Selapyane, waarnemende munisipale bestuurder van die Bela-Bela-munisipaliteit, het skaars haar kantoor betrek toe ’n groep munisipale werkers op Dinsdag 2 Maart voor die kantoor begin betoog het.

Die Pos het betroubaar verneem die oorgrote meerderheid van die stakers is werkers van die vullisverwydering-, water-, krag- en parke-afdelings. Hulle het enkele stukke vullis voor die gebou uitgegooi en die ingang versper terwyl hulle gesing en gedans het.

Tinus Ras, DA-raadslid, het by navraag aan Die Pos gesê die ontevredenheid het glo ontstaan nadat werkers ’n toelae beloof is vir dienste gelewer tydens die Covid-19-inperkingstyd en die geld nog nie aan hulle betaal is nie.

Dié toelae is glo maande gelede in beginsel deur die munisipaliteit goedgekeur met die doel om werkers aan te spoor om steeds hul werk tydens die inperkingstyd te verrig, het Ras gesê.

“Die munisipale raad het op Vrydag 26 Februarie die aanvullende begroting vir die nuwe boekjaar goedgekeur. Daar was egter geen geld vir bykomende betaling aan die werkers nie.”

Die werkers se vakbonde het nou toegetree en eis dat die munisipaliteit die werkers hul beloofde geld betaal, het Ras gesê.

Volgens hom word dringende samesprekings met die verskillende rolspelers beplan. Selapyane sal intussen haar skoene moet volstaan om sake by die munisipaliteit te bestuur.

Inwoners se klagtes oor swak dienslewering en die invordering van uitstaande munisipale skuld is twee enorme take wat volgens ingeligte bronne dringende aandag moet geniet.

  • Die Pos het navrae oor die staking aan die munisipale woordvoerder gerig, maar teen druktyd geen antwoord ontvang nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button