MunicipalNews

Belastingbetalersforum gee munisipaliteit sperdatum oor riool

Die voortslepende rioolprobleem by die munisipale rioolaanleg in Bela-Bela kry maar net nie einde nie.

’n Vergadering op Maandag 26 Julie tussen die Bela-Bela-belastingbetalersforum (BBTF) en die munisipale bestuur het opnuut die kollig op dié knelpunt laat val en die BBTF het die munisipaliteit nou ’n sperdatum gegee om hul sokkies op te trek.

Die vergadering het gevolg nadat daar in Junie herstelwerk aan die rioolpype gedoen is.

Rou riool het jare lank by die stukkende rioolpype gelek en hoofbrekens aan sakelui en die publiek by die Bela-Bela Waterfront, die Bela Mall en langs die R101-pad buite die dorp besorg.

Inwoners kla al lank dat die damme riool inwoners se gesondheid kan beïnvloed en ook die plaaslike ekonomie knou omdat besoekers deur die stank afgeskrik word.

Voorlopige herstelwerk is onlangs deur Fred van Heerden, plaaslike sakeman, gedoen nadat hy ’n kontraktuele ooreenkoms met die munisipaliteit aangegaan het.

Hy het aan Die Pos gesê die werk het hom duisende rande uit sy eie sak gekos. Hoewel Van Heerden se pogings om pype te herstel en die rioolreuk vas te vat, tot dusver suksesvol was, is die munisipale rioolaanleg volgens kenners in só ’n haglike toestand dat ’n krisis kan ontstaan indien die munisipaliteit nie dringend verdere opgradering doen nie.

Johan Mills, BBTF-voorsitter, het die munisipale bestuur die afgelope Maandag gewaarsku indien die munisipaliteit nie aandag skenk aan die probleem nie, sal ’n strafregtelike klag teen die munisipaliteit volg.

Mills het voorts gesê laboratoriumtoetse is aangevra om die moontlike teenwoordigheid van die Covid-19-virus in die water te bepaal.

Die aanwesigheid van dié dodelike virus is by verskeie plekke elders in die land aangemeld. Mills het gesê indien die munisipalteit ordentlike kontrakteurs vir die werk aanstel, kan die werk suksesvol en bekostigbaar afgehandel word.

“Bekwame kontrakteurs wat gewillig is om die werk teen billike betaling te doen, is oor die hoof gesien toe tenders vir dié werk destyds oorweeg is,” het hy gesê.

Die BBTF het die munisipaliteit tot Woensdag 4 Augustus gegun om ’n bevredigende, formele antwoord oor die probleem te verskaf voordat verdere stappe geneem word.

Tinus Ras, DA-raadslid, het bevestig dat amptenare na afloop van die vergadering weer die aanleg besoek het.

  • Die Pos het navrae aan die munisipaliteit hieroor gerig, maar teen druktyd is dit nie beantwoord nie.

Related Articles

Back to top button