MunicipalNews

Bosveldsig-area wéér sonder water weens elektriese fout

Inwoners van Modimolle se Bosveldsig fase 1 tot 8, asook die hele area vanaf Swartwitpens- tot Boshoffstraat, is al warm onder die kraag omdat hul deurgaans met geen watertoevoer of baie swak waterdruk sukkel.

Die plaaslike owerheid het die inwoners omstreeks 15:00 op Maandag 20 Junie ingelig dat daar geen water aan die omgewing voorsien kon word nie weens ’n elektriese fout by die hoёdrukwatertoring se pomp. Die pomp word gebruik om water na die hoёdruktoring toe te pomp waarna dit dan aan die onderskeie huishoudings voorsien word.

Die waterpomp is einde 2021 ook vervang met ’n nuwe pomp omdat die oue nie meer in ’n goeie werkende toestand was nie.

Die elektriese fout wat glo die hele elektriese paneelbord uitgebrand het, is glo reeds dieselfde oggend (20 Junie) by die elektriesebestuurder aangemeld.

Volgens Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, het sy haar bes probeer om seker te maak dat die fout so spoedig moontlik herstel word.

Volgens Thabang Selemela, bestuurder van water en sanitasie, is die elektrisiën se aanbeveling dat die hele paneelbord vervang moet word. Daar is egter ’n vertraging, want die nuwe paneelbord kan eers teen Donderdag 23 Junie gelewer word en na raming eers op Vrydag 24 Junie geïnstalleer word.

Die elektriese span was teen 20:00 op Dinsdag 21 Junie nog besig op die perseel om ’n tydelike plan te maak sodat water nog dieselfde aand aan al die huishoudings voorsien kon word.

Ongelukkig het Eskom se beurtkrag, wat vir Modimolle om 21:00 geskeduleer was, weer die voorsiening van water verhinder.

  • Hou gerus die volgende uitgawe van Die Pos dop vir terugvoering.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button