Inwoners herdenk sterftes in kampe
Die gebeure wat meer as 120 jaar gelede tydens die Anglo Boereoorlog in die ou Nylstroom afgespeel het, het op Maandag, 16 Junie tydens die viering van Konsentrasiekampdag, weer vlugtig herleef.


’n Groep van sowat 80 mense het byeengekom by die ou konsentrasiekampbegraafplaas in Thabo Mbekiweg in Modimolle en ’n kranslegging by die monument gehou. Organisasies soos die
FAK, die Volkspele, AfriForum, die Militêre Veterane-vereniging, en die VF Plus was teenwoordig.
Vir van die mense was die verhale oor die oorlog en die tragedie wat in die konsentrasiekampe afgespeel het, nie bloot net geskiedenis nie, maar verhale wat hulle eerstehands by hul voorouers gehoor het.
Nadat Lord Roberts, bevelvoerder van die Britse troepe in Suid-Afrika, op 16 Junie 1900 sy verskroeide aarde beleid verklaar het, is tienduisende mense in konsentrasiekampe regoor die land aangehou. Hierdie beleid het gelei tot die afbrand van ’n geraamde 30 000 wonings en die afmaai van vee en vernietiging van gesaaides. Bronne dui aan dat daar in die voormalige Transvaal sowat ’n miljoen beeste was, 200 000 perde en 1,5 miljoen skape. Na die oorlog was daar slegs sowat 200 000 beeste, 50 000 perde en 400 000 skape oor. Hierdie beleid was ’n poging om die
Boere-vegters, wat die Britte met hul guerrilla-taktiek van veg en vlug uitoorlê het, se moed te breek en kos moeilik bekombaar te maak.
Die kamp in Modimolle was in Mei 1901 geopen en weer in Maart 1902 gesluit. Hoewel die tydperk kort was, het Jaco Bogaards, ’n inwoner, vertel dat die kamp die hoogste sterftesyfer gehad het.
Die kamp het op sy grootste 1852 inwoners gehad en het 544 sterftes aangeteken. Bogaards het vertel dat daar ses keer meer mense in die kampe dood is, as wat op die slagveld gesterf het. Nie vegtendes, soos vroue, kinders, bejaardes en diegene wat hulself oorgegee het, is in die kampe aangehou. Die kamp in Modimolle was geleë tussen die braksloot en waar Eenheid Primary School nou geleë is.
“Daar is min statistiek oor die Nylstroom-kamp beskikbaar, omdat die munisipale argief in 1934 afgebrand het,” het hy gesê. “Mense van omliggende plase is na die kampe toe geneem en is dikwels te voet soontoe aangejaag. Ander is agterop oop treintrokke aangery. Van die vrouelaers wat in die berge geskuil het, is ook gevange geneem en na die kampe toe geneem.”
Van die kamp se inwoners is in tente gehuisves en ander in huise of in die polisieselle, wat effe meer skuiling as die tente gebied het. “Diegene wat daar was het vertel dat die toestande in die kampe haglik was en die kos skaars genoeg om aan die lewe van te bly. Higiëne was ook ’n probleem. Daar is nie aangeteken of daar enige dokters of verpleegsters beskikbaar was nie,” het Bogaards gesê.
Sterftes
Daar was gemiddeld twee sterftes per dag en op die ergste tyd 111 sterftes in ’n enkele maand. Die kerkhof se begraafplaas is ook getuie dat dit die jong kinders en bejaardes is wat die swaarste gekry het en dood is. Die grootste aantal sterftes is toegeskryf aan masels, diarree en disenterie en malaria.
Die Britte het glo besluit om die kamp en die inwoners na die Irene-kamp buite Pretoria te skuif, nadat genl. Beyers die kamp in Pietersburg aangeval het en die mense bevry het. Volgens oorlewering is die mense op oop treinwaens in gietende reën eers na die ou Warmbad toe vervoer, voordat hulle na Irene is.
Een van die staaltjies wat Bogaards vertel het is dat genl. Beyers plan wou maak met die kamp in Nylstroom ook. Stefanus van Emmenis, wie se vrou in die kamp aangehou was, het aangebied om na die kamp toe te gaan en te maak of hy homself oorgee, en sodoende inligting oor die kamp in te win. Van Emmenis het glo die oudste perd wat hy kon kry en gehawende Lee Metford-geweer gevat en is na die kamp toe. Hy het glo so verwaarloos gelyk dat die wagte hulle nie veel aan hom gesteur het nie. Hy het twee weke in die kamp spandeer en gesien dat die kamp se bevelvoerder ’n baie mooi skimmelperd ry en ’n vaste roetine het. Aan die einde van die twee weke, het hy glo geselsies gaan maak met ’n paar hensoppers (joiners) op die stoep naby die perd.
Hy het eers die perd gevryf, later die teuels in sy hande gehad en vir die ander gesê hy wonder hoe voel dit om op die perd te ry. Met dié spring hy in die saal en is op volle spoed al waaiende uit die kamp uit. Die bevelvoerder wou nie hê dat iemand skiet nie, omdat hy bang was hulle tref sy perd. Na oorlewering is die perd se teuels en die saal na die oorlog aan hom terug besorg.
Kinders ontsnap
Faan Viljoen, wat in Modimolle woon, het vertel dat sy pa as twaalfjarige saam met twee maats uit die konsentrasiekamp ontsnap het. Drie van sy sibbe het in die kamp gesterf.
“My pa het vertel dat hulle vanaf hul plaas in Doornfontein aangejaag is en moes loop tot by die kamp. My pa, ’n Van Emmenis-seun en ’n Van der Merwe seun het uit die kamp ontsnap en later by die kommando aangesluit,” het hy vertel.
“My pa se pa is Ceylon toe gestuur. Voor die oorlog het hy vir my pa ’n Joseph Rodger-sakmes gegee. Hulle het jare ná die oorlog saam gestaan en houtwerk doen, toe sy pa sien dat hy ná al die omswerwinge steeds die mes het.”