MunicipalNews

Vuur vreet duisende hektaar veld

Brandbestryders het vandeesweek hul hande vol gehad in die Modimolle-Mookgophong gebied met veldbrande wat sedert die naweek op verskeie plekke woed en duisende hektare verbrand het.

Dit is veral in die Mookgophong-gebied waar twee groot brande gesorg het dat brandbestryders lang en harde ure spandeer het om die vlamme te tem. Spanne van die brandbestrydingsverenigings en Working on Fire van Modimolle, Mookgophong en Mokopane, sowel as boere van sover as Crecy en Roedtan het ingespring om die vlamme die stryd aan te sê. Van die spanne het deurnag gewerk.

Een van die brande het vermoedelik by ’n pompstasie by die Frikkie Geyserdam ontstaan en twee dae lank in die Buffland- en Rietfonteingebiede gewoed voor dit teen Dinsdagmiddag uiteindelik geblus is. Kragpale wat beskadig was het tydelik water- en elektrisiteitsvoorsiening belemmer. Die munisipaliteit het die volgende oggend herstelwerk gedoen.

Volgens Hercules Louw, basisbestuurder van Working on Fire in Mookgophong, was daar ook ’n groot brand in die Palala/Bokpoort-omgewing wat teen Dinsdagmiddag sover as Entabeni, Sterkrivier en Witfontein versprei het en na raming meer as 10 000 hektaar verwoes het.

Volgens VF Plus-raadslid Marita Louw, het inwoners ingespring om die brandbestryders te ondersteun deur kospakkies, water en bydraes vir brandstof te gee.

Ofentse Letswalo, woordvoerder van die Working on Fire-Kishugu JV in Limpopo, het gesê dat hierdie hul besigste brandseisoen tot nog toe is.

“Die 26 spanne in die provinsie, wat die spanne in Mookgophong en Modimolle insluit, het vanjaar reeds ingespring om 160 brande te blus en het broodnodige bystand aan die brandbestrydingsverenigings, munisipaliteite en plaaslike gemeenskappe gelewer. Ons berei onsself voor vir nog brande en verwag dat daar ’n aansienlike styging sal wees teenoor verlede jaar se totaal van 360 brande,” het hy gesê.

In die Modimolle-omgewing het ’n brand in die Nylrivier Sondag, 28 Julie, sowat 300 hektaar afgebrand. ’n Plaasstoor met sy inhoud is vernietig.

Op Maandag, 29 Julie het daar ’n brand in die Kranskop-omgewing ontstaan. ’n Motor wat in ’n ongeluk was, het aan die brand geslaan en die veldbrand veroorsaak.

Die brandbestrydingsvereniging (FPA) het inwoners aangemoedig om dadelik op die veiligheidsgroepe te laat weet indien hulle rook sien sodat brande so gou moontlik geblus kan word.

WOF-spanne se raad was ook dat oop vure vermy moet word, veral wanneer dit winderig is. Die plantegroei om eiendom kan skoon gemaak word om die risiko van skade te verminder.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button