Luukse treinrit onderbreek
Die luukse Rovos Rail se kenmerkende groen en goud trein wat dikwels op Bela-Bela te sien is, se rit is Donderdag, 29 Augustus, vir etlike ure onderbreek na ’n botsing met ’n voertuig by ’n spooroorgang.
Die trein wat net na 07:00 in ’n suidelike rigting beweeg het, het gerem, maar ongeag die trein se waarskuwingsfluit, het ’n wit Volkswagen Polo reg voor die aankomende trein, die spooroorgang by uitbreiding 6, oorgesteek.
Die Polo is getref en die impak het die voertuig van die spoorlyn afgeslinger tot waar dit langs die spoorlyn tot stilstand gekom het. Die voertuig het ernstige skade opgedoen, die lugsakke het ontplooi en die bestuurder het met geringe skrape en beserings uit die voertuig geklim.
Die luukse trein het geen noemenswaardige skade gely nie en kon na die ondersoek, hul reis voortsit na die Capitol Park-stasie in Pretoria wat Rovos Rail se eindbestemming is.
Rovos Rail se kommunikasiebestuurder, Liezl Maclean het bevestig dat die trein op pad terug was van ’n toer na die Victoria Watervalle in Zimbabwe, toe die ongeluk gebeur het.
Sy het ook bevestig dat Rovos Rail ’n uitstekende veiligheidsrekord het en dat daar nog nooit voorheen so ’n insident was nie.
Maclean sê ook dat verklarings toon dat die drywer op die betrokke dag die motor op die spoorlyn opgemerk het, die treindrywer het die fluit geblaas, sowel as rem aange-slaan, maar ’n trein vat baie lank om tot stilstand te kom.
Die motorbestuurder het egter geen poging aangewend om van die spoorlyn af te beweeg nie en die trein het daarteen gebots.
Sy het ook Rovos Rail se dank en verligting uitgespreek dat niemand in die voorval beseer is nie.
Rovos Rail is ’n luukse trein-hotel in privaat besit, wat suidelike Afrika bedien.
Die toere op dié treine word gereken as van die toptien trein-hotelle ter wêreld en inwoners van Bela-Bela is gelukkig om die mooi trein op die spoor te sien.