News

Kunstalent help jonges dekades later steeds leer skryf

“Elke keer as ek verby ’n winkelvenster loop met leerhulpmiddels in en my oog vang die skrifkaarte, kan ek nie help as om te glimlag nie.

Ek dink dan by myself: Hulle weet nie wat ek weet nie!”

Tydens ’n onlangse vergadering van die VLU se Nylstroomtak, het lede gesels oor hoe ’n talent wat hulle het ’n inkomste kan genereer. Die tema was kreatiwiteit.

Joan Schoeman, wat in die Kokanje-aftreeoord woon, het vertel hoe sy inderhaas, op versoek van haar man, skrifkaarte op haar kombuistafel geteken het, te midde van ’n huis vol mense.

“My man se pa is in 1978 oorlede en ons het baie mense by ons aan huis gehad. My man, Jurie, het by die huis gekom met ’n pak A0 dik papier en gesê daar is ’n tender uit vir skrifkaarte maar dit is reeds op die datum vir inhandiging ek moet gou maak.

Ek het die papier, wat soos die buitebladsye van die destydse telefoonboeke gelyk het nader getrek, asook dik en dun potlode en merkpenne, ’n liniaal en ’n uitveër en begin teken.

Dit was in die dae voor ons rekenaars en slim programme gehad het,” vertel Schoeman.

Haar kunstalent het handig te pas gekom en sy het die lopende skrif letters en syfers met hul perfekte hellings en kurwes geteken.

Hulle het dit ingedien vir die tender en die res is geskiedenis. Jurie het ’n onderneming IDEM, wat skoolhulpmiddels verskaf het, besit. Dit is reeds twintig jaar gelede verkoop.

Dié skrifkaarte sal vir lesers bekend lyk, want dit was vir dekades regoor die land teen klaskamers se mure geplak om jong handjies te leer hoe om die letters korrek te vorm.

“Dit was vir my baie lekker toe ek so ruk gelede op Eenheid Primary School se stoepe geloop het en een van die kaarte steeds teen die mure sien,” het Schoeman vertel.

Schoeman het jarelank skool gehou vir leergeremde kinders aan die Oos Rand. Sy het kuns en Engels gegee.

“As kind in die vyftigerjare, was dit een van my werkies by die skool om die inkpotjies op die tafels voor skool weer vol te maak. In daardie jare het jy aan kunswedstryde deelgeneem in skoonskrif en opstelle skryf. My liefde vir die teken van letters het so begin,” het sy vertel. “Vandag se jonges sal dit skaars glo, maar ons het ons foute met bleikmiddel van die papier afgehaal.

Aan die einde van die jaar was jou boek vol geel kolle!”

“Die VLU se doel met die praatjies wat ek saam met ander lede gegee het, was om mense te inspireer om hul talente wat hulle het, te gebruik. Daar is soveel mense met mooi talente wat hulle in staat stel om ’n inkomste te verdien.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button