Só vergelyk kospryse
In ’n onlangse opname wat gedoen is deur die Pietermaritzburg Economic Justice and Dignity groep (PMBEJD) is bevind dat Johannesburg die duurste metro is in Suid-Afrika om huishou- delike produkte te bekom.
Die peiling het drie metro’s met mekaar vergelyk, Johannesburg, Durban en Kaapstad. Kaapstad was uit die drie, die goedkoopste metro, en dieselfde produkte kon teen naastenby R400 minder in Kaapstad bekom word as in Johannesburg.
Die voedselprodukte wat vergelyk is, toon volgens die navorsers die aankoop tendens van ’n gemiddelde Suid-Afrikaanse gesin. Die huishoudelike voedselmandjie sluit 44 items in wat strek vanaf mieliemeel, sout, beesvleis, aartappels en uie tot konfyt en brood en sluit voedsel soorte in wat deur die laer-inkomste gesin verbruik sal word.
Die studie lewer waardevolle insigte rondom die wyer voedsel prystendense van regoor die land en daar is soms ’n merkbare verskil in die prys van sekere uitgesoekte produkte uit verskillende dele van die land.
Spinasie kos bv. R82,83 vir agt bondels in Johannesburg, teenoor R117,02 in Durban.
Die Pos het ook plaaslik pryse gaan vergelyk om te sien of daar enige noemenswaardige verskil is in pryse tussen die groot metro’s en ’n plattelandse dorp soos Bela-Bela. Agt bondels spinasie kos dan R103,92 plaaslik.
Ander noemenswaardige prys verskille wat opgemerk is, is 2,5 kg polonie, wat R89,99 in Bela-Bela kos, teenoor R71,32 in Johannesburg en R58,39 in Kaapstad. Mieliemeel se prys is bepaal op R339,97 vir 30 kg in Johannesburg, R293,22 in Durban en R259,98 in Bela-Bela.
In totaal het die opname bepaal dat die koste van ’n huishoudelike voedselmandjie, wat naastenby genoeg is om ’n gesin van vier te voed, per maand in Kaapstad R5040,18 kos, in Durban R5226,74, in Johannesburg R5482,65 en in Bela-Bela sal ’n soortgelyke mandjie jou R5686,83 uit die sak jaag, met enkele verskille soos die prys van 7 kg aartappels en uie wat gebruik is in Bela-Bela, en nie 10 kg soos elders nie.
Die prys van lemoene is vir 2 kg in Bela-Bela en nie ’n sakke van 7 kg soos in die metro’s nie.
Dit is duidelik dat dit haas onmoontlik is om ’n gesin vandag te voed as jy in die laer inkomste groepe val.
Die bogenoemde huishoudelike voedselmandjie is dus vir die persone wat op ’n regeringstoelae (SASSA) staat maak ’n onbegonne taak.