‘Tannie Thea die vleismeester,’ sterk aan ná fratsongeluk
’n Ongeluk in die werksplek het almal by Sampada Agri Meat and Retail Market op Modimolle op hol gehad.
Een van Sampada se staatmakers, beter bekend as ‘tannie Thea Meyer, die vleismeester’ het op Vrydag, 1 November, vroegoggend ’n ernstige besering aan haar regterhand opgedoen.
In ’n fratsongeluk omstreeks 05:00 het Meyer haar regterhand ernstig beseer, maar die besonderhede van die besering is nog onduidelik.
Sy is onmiddellik gehaas na die spreekkamers van dr. Ebersohn op Modimolle waar sy gestabiliseer is en teen sonop het ’n kollega, Elsie de Jager vir tannie Thea na die Milpark Hospitaal in Parktown, Johannesburg gehaas, waar sy ’n noodoperasie van etlike ure ondergaan het.
Haar man, Johan Meyer, het na die operasie bevestig dat haar toestand stabiel is en dat sy in die intensiewe sorgeenheid (ICU) opgeneem is.
Volgens Johann Abrie van Sampada het ‘tannie Thea’ met haar onblusbare energie nog opdragte aan die werkers gegee direk na die voorval toe sy inderhaas na dr. Ebersohn se spreekkamer gehaas is.
Tydens ’n besoek aan die hospitaal die volgende dag het sy daarop aangedring dat iemand haar skootrekenaar moet bring sodat sy seker maak alles loop klop disselboom in die slaghuis. Haar woorde was sy wil seker maak niemand jaag aan in haar afwesigheid nie.
Meyer moes op Dinsdag, 5 November weer ’n operasie aan haar hand ondergaan en daarna moet sy net herstel.
Sy is vasberade om binnekort weer terug by die slaghuis te wees en almal beter sorg dat hul werkstasies behoorlik skoon is wanneer sy daar opdaag was haar boodskap aan kollegas.
Die Pos het Dinsdag met Johan Meyer gepraat na die tweede operasie en hy het bevestig dat die operasie goed afgeloop het en dit blyk nie of daar enige komplikasies is nie.
Hul moet nou wag dat die weefsel herstel.