
Twee verdagtes wat verbind word met die wrede aanval op Hennie en Marie Coertze, ’n bejaarde egpaar van Bela-Bela, het op Donderdag 31 Mei weer vlugtig in die Bela-Bela-land-droshof verskyn.
Die hof het gehoor dat dié twee boonop vermoedelik onwettig in die land is en ’n bykomende klag is teen hulle gelê. Luidens die klagstaat is hulle albei van Mosambiek.
Die Coertze-egpaar is op Dinsdagnag 8 Mei in hul plaashuis buite Bela-Bela op die Alma-pad in hul slaapkamer oorval, vasgebind en beroof.
Die booswigte het die huis geplunder en weggekom met onder meer die egpaar se twee voertuie, twee vuurwapens, duisende rande se kontant, juwele, ’n televisie, ’n kragopwekker en ander huishoudelike items.
Die aanvallers Hulle het in die Coertzes se Toyota-bakkie gevlug. Die voertuig is die volgende dag in Winterveld, Mabopane, in die Soshanguve-omgewing, gevind.
Die egpaar was ontsettend getraumatiseerd ná die gebeure en het potbloumerke op veral hul arms gehad waar hulle hardhandig hanteer is. Daar was volgens die egpaar vermoedelik vier rowers by die aanval betrokke.
Die egpaar is dr. Roelof Coertze, mediese praktisyn in die dorp, se ouers.
Die polisie het die dag ná die voorval, in samewerking met die Heritage Protection Group (HPG), twee verdagtes, Albert Ndlovu en Mildred Makondo in Winterveld in hegtenis geneem.
Lt.kol. Abel Phetla, speurtakhoof van die Bela-Bela-polisie, het by navraag gesê Makondo is glo een van die verdagtes wat steeds gesoek word, se vriendin. Makondo en Ndlovu word luidens die klagstaat aangekla van huisroof met verswarende omstandighede, asook vir die besit van gesteelde goedere. Die polisie het vroeër gesê die Coertzes se bakkie en kragopwekker is in dié twee se besit gevind.
Ndlovu en Makondo sou in Junie om borgtog aansoek gedoen het, maar hulle het die aansoek laat vaar, het die hof vroeër gehoor. Hulle word sedert hul inhegtenisname aangehou.
Die hof het tydens verlede week se verskyning gehoor dat die saak moontlik na die Modimolle-streekhof oorgeplaas sal word, maar ’n datum moet eers vasgestel word.
Abraham Mohlabe, staatsaanklaer, het gesê daar word nog na die ander verdagtes gesoek.
Landdros Gerrit Olivier het die saak na Woensdag 18 Julie uitgestel.