CrimeNews

Beveilig plaashuis só, waarsku kenner

Die skielike toename in plaasaanvalle landwyd laat boere weer meer krities na hul veiligheid kyk.

Ben Engelbrecht van die Heritage Protection Group (HPG) het op Dinsdag 19 Junie tydens ’n bespreking oor grondonteiening sonder vergoeding, wat by Castle de Wildt buite Modimolle gehou is, raad gegee.

HPG is ’n niewinsgewende organisasie wat ernstige geweldsmisdade soos plaasaanvalle en renosterstropery ondersoek. Hul spoorsnyers is dikwels van die eerstes op die tonele ná ’n plaasaanval.
Engelbrecht se raad aan boere is dat hulle self verantwoordelik is vir hul veiligheid.

Hy beveel aan dat boere ’n drie tot vier voet muur met ’n elektriese heining bo-op om hul huise oprig.

Die muur se fondasies moet diep wees om te verhoed dat aanvallers onderdeur kan grawe. Dit is glo dikwels ’n probleem met ’n draadheining. Elektriese heinings moet aan ’n alarm gekoppel wees om dadelik te waarsku.

Engelbrecht het gesê aanvallers of inbrekers lig soms elektriese heinings met ’n plastiekpyp op. ’n Draad met ogies veroorsaak dat die drade onmiddellik kontak maak as dit gelig word en die alarm laat afgaan.

Hy het gesê ’n alarm wat ogies buite die huis het, is belangriker as ogies binne die huis. “As hulle eers in die huis is, is dit te laat. ’n Mens het ’n vroeë waarskuwing nodig.”

Kamerastelsel
’n Kamerastelsel wat beweging moniteer moet dag en nag aan wees. “Dit is ’n duur stelsel om aan te skaf, maar as jy die geld het, beveel ons dit aan.”

Sterk diefwering en veiligheidshekke is ’n vereiste. ’n Veiligheidshek in die gang sodat die slaapkamers van die res van die huis geskei word, kan ’n mens die kans gee om hulp te ontbied. “Hulle kom met geweld en breek deure en hekke af,” het Engelbrecht gesê.

Klein hondjies binne-in die huis is goud werd, sê hy.

“Aanvallers spuit die honde buite met traangas. Honde is oor die algemeen bang vir spuitblikke en selfs dapper honde vlug daarvoor.”

“In baie aanvalle hoor ons die eerste keer dat mense die aanvaller gesien het, was die persoon reeds langs hulle.”

Engelbrecht het gesê hy is ’n voorstander van buiteligte wat op ’n enkele skakelaar werk. Hy verkies dat die erf buite donker is, omdat dit vir aanvallers moeilik is om te sien wat aangaan. Hulle kan nie sien waar om te loop nie en moet ’n flits aanskakel. Indien nodig, kan al die ligte gelyktydig aangeskakel word.

“Maak seker dat jou alarm by ’n betroubare bron afgaan sodat jy seker kan wees dat iemand binne minute met hulp sal opdaag. Skakel in by die buurtwagte en groepe en bly in radio- en WhatsApp-verbinding. Jou alarm moet só hard wees dat die bure dit kan hoor. Oorweeg ook ’n “strobe” lig sodat mense van ver af kan sien waar hulp nodig is. Dit skrik die aanvallers af.”

Engelbrecht het gesê aanvallers vermy deesdae dikwels die huis en wag inwoners buite in. Hulle neem hulle daarna huis toe.

Vermy kontant in die huis
“Die meeste aanvalle gebeur as mense kontant in die huis hou. Die boodskap word gewoonlik deur werkers of kontrakteurs versprei — dit is dieselfde geval met renosters. Moenie dat mense weet jy het kontant nie — moenie jou beursie uithaal as ’n werker geld wil leen nie — werk eerder deur die bank,” was sy raad.

Hy het gesê ’n handwapen moet aan jou sy of in jou hand wees, anders is dit waardeloos. “Oefen by ’n skietklub en maak seker dat jy weet hoe jou wapen werk.”

Hy beveel aan dat die pad voor ’n plaashek breed genoeg skoon gemaak moet wees sodat jy vinnig met ’n voertuig daar kan omdraai as jy moet of dat daar nie maklik goed in die pad gepak kan word nie. Plaashekke by huise moet verkieslik elektries kan oopskuif. Plantegroei om heinings moet goed skoongemaak wees, want dit help ook dat spore ná ’n aanval gevolg kan word.

Wees nuuskierig oor mense wat langs die pad staan of loop.

Dit geld ook vir smouse in dorpe of stede. Let op hoe hulle lyk sodat jy ’n beskrywing kan gee.

“As jy gekaap word, ry in die motor voor jou vas.”

Hy het boere gemaan om dissiplinêre stappe teen hul werkers goed te hanteer, sodat dit nie aanleiding kan gee tot wrokkigheid nie. Moenie geld weerhou wat hulle toekom nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button