Twee buitelanders is agter tralies nadat die Modimolle-speurdiens en Heritage Protection Group (HPG) hulle aangekeer het vir die aanval op die Van Niekerk-egpaar op Vrydag 15 Junie.
Die Van Niekerks, beide afgetrede veeartse, en Abram Khethisa, ’n werker, is die oggend op hul plaas in die Boekenhout-omgewing buite Modimolle deur vier mans oorval toe hulle voer vir hul diere uitgesit het. Dr. Lesley van Niekerk (63) is tydens die skietery gewond en is in ’n kritieke toestand per helikopter na ’n Pretoriase hospitaal vervoer.
Die twee verdagtes is 32 en 28 jaar oud en is Maandagnag om 22:00 in die Mookgophong-omgewing in hegtenis geneem, het kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale woordvoerder van die polisie, gesê.
Volgens HPG het een van die mans voorheen vir die Van Niekerks gewerk. Daar is glo beslag gelê op ’n paar skoene wat ’n identiese afdruk het van die spore wat op die toneel gevind is. Die soektog na die ander verdagtes duur voort.
Dr. Hercu van Niekerk het bevestig dat sy vrou op Vrydag 6 Julie uit die hospitaal ontslaan is en by hul dogter, Leatitia du Bruin, in die stad aansterk. “Sy is nog baie swak, maar dit gaan al baie beter met haar,” het hy gesê.
“Ek is terug op die plaas, want ons het werk om hier te doen,” het hy vasbeslote gesê. “Dié aanval kon net sowel in ’n motoroprit in die stad gebeur het as hier op die plaas.”
Hy het gesê die probleem van onwettige immigrante moet dringend opgelos word.
“Dié mense kom ons land binne en val Suid-Afrikaners aan. Hulle ontneem ons eie mense van werksgeleenthede. Daar moet ’n oplossing hiervoor gevind word.”
Die twee mans wat aangekeer is sal binnekort in die hof verskyn, het Ngoepe gesê.