Hope bourommel en kombuisafval lê in die veld terwyl plastieksakke soos vlae aan die bome wapper.
Ontstoke inwoners wat langs die braksloot in Modimolle woon, kla dat bakkievragte vol rommel in dié sandsloot gestort word, pleks van by die munisipale stortingsterrein wat net enkele kilometer weg is.
Die inwoners is bekommerd dat wanneer die eerste reën val, die vullis in dié deel van die braksloot, tussen Ahmed Kathrada- en Bakkerstrate, in die reeds besoedelde Klein Nylrivier sal spoel.
Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, het gevra dat inwoners mense wat vullis in die veld stort, sal afneem en hul voertuie se registrasienommers neerskryf.
“Kontak dan asseblief my kantoor sodat ons kan vasstel wie dit is. Hulle sal verantwoordelik gehou word vir die gemors en beboet word,” het sy gesê.
Die stortingsterrein in Modimolle is self in ’n haglike toestand.
Inwoners langs die bestaande stortingsterrein kla al jare lank dat dit hul gesondheid benadeel. Brande ontstaan gereeld op die terrein.
Volgens Van Staden is die heining en die hek van die nuwe stortingsterrein in die Drie Hekke-omgewing reeds opgerig. “Ons beoog om die nuwe terrein teen Junie aanstaande jaar te open,” het sy gesê.