CrimeNews

Vraatsige maaifoedies verorber gesteelde pizza

Die verdagtes het volgens die polisie die pizza-bestelling agterop die motorfiets gegryp en dit sommer daar op die toneel verorber.

’n Groep boosdoeners van Bela-Bela was klaarblyklik op Vrydagaand 1 Februarie besonder lus vir pizza.

Volgens inligting van die Bela-Bela-polisie was ’n afleweringsman van Debonairs Pizza in Potgieterstraat die aand op pad om ’n bestelling in die township af te lewer.
Vyf mans het die afleweringsman, wie se naam om veiligheidsredes weerhou word, teen ongeveer 21:30 van sy afleweringsmotorfiets gedwing. Die voorval het naby die parkie in Milesstraat plaasgevind.

Die verdagtes het volgens die polisie die pizza-bestelling agterop die motorfiets gegryp en dit sommer daar op die toneel verorber.
’n Onderonsie het tussen die verdagtes en die afleweringsman gevolg, waarna hy glo aangerand en met ’n mes gedreig is. Volgens die afleweraar het die aanvallers aan hom gesê: “Jy weet nie hoe werk dinge in Bela-Bela nie. Ons sal jou leer hoe dinge werk.”

Die afleweraar kon daarin slaag om te ontvlug waarna hy klagte van aanranding en roof gelê het.

Die verdagtes word steeds gesoek.

  • Die Pos het verneem dat Debonairs Pizza moontlik hul na-ure afleweringstye weens dié voorval gaan aanpas. Navrae is aan die bestuur gerig, maar teen druktyd was die afleweringstye nog nie gefinaliseer nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button