CrimeNews

Daggagebruikers kan steeds hul rieme styfloop

“Mense kan steeds weens die besit of verspreiding van dagga aangekla word indien daar vermoed word dat die persoon die dagga verkoop.”

Mense wat dagga in die privaatheid van hul wonings wil gebruik, is steeds nie seker presies watter “nuwe” regte hulle in terme van die strafproseswet het nie.

Talle verdagtes word steeds in die Bela-Bela-omgewing in hegtenis geneem op aanklagte van dwelmbesit en die verspreiding van dwelms.

Die Bela-Bela-polisie het juis op Vrydag 29 Maart ’n man in hegtenis geneem weens die vermoedelike verspreiding van dagga.

Volgens die polisie het hulle ’n klagte ontvang dat dié inwoner glo dagga verkoop, waarna hulle die perseel besoek het.

Die beamptes het 21 sakkies dagga in die huis gevind. Die inwoner is aangekla van die verspreiding van dagga, maar hy moet nog op die aanklag in die Bela-Bela-landdroshof verskyn, het ’n polisiewoordvoerder gesê.

Sedert die grondwethof in September 2018 die uitspraak gelewer het dat mense binne die privaatheid van hul wonings dagga mag gebruik, bly die vrae onbeantwoord oor hoeveel iemand in sy of haar besit mag hê en hoeveel daggaplante in hul tuine geplant mag word vir eie gebruik.

Die uitspraak maak geen melding daarvan nie.

Kol. Abel Phetla, waarnemende stasiebevelvoerder van die Bela-Bela-polisie, het by navraag gesê die grondwethof het die parlement 24 maande gegee om die grondwet te wysig; gebaseer op regter Raymond Zondo se uitspraak in die grondwethof.

Phetla het gesê totdat die parlementêre komitee duidelikheid kan gee, bestaan daar geen wettige voorskrif oor hoeveel dagga daggagebruikers mag gebruik, besit of plant nie.

“Mense kan steeds weens die besit of verspreiding van dagga aangekla word indien daar vermoed word dat die persoon die dagga verkoop,” het hy gesê.

Mense mag ook nie dagga of enige ander dwelm in die openbaar besit nie. Indien dwelms by iemand gevind word, kan die persoon summier deur die polisie in hegtenis geneem word, het Phetla gesê.
Konst. Pieter Scheepers van die polisie se misdaadvoorkomingseenheid het tydens ’n onlangse besoek aan Settlers Agricultural High School (SAHS) gesê slegs mense van 18 jaar en ouer mag dagga in privaatheid gebruik.

Die polisie en provinsiale regeringsdepartemente het egter hul hande vol met minderjariges wat verslaaf raak aan dwelms. Die dwelm nyaope, wat gewild is onder jeugdiges, is ’n samestelling van dagga, heroïen en huishoudelike produkte en is een van die grootste probleme in die provinsie, het Scheepers gesê.

In terme van Zondo se uitspraak berus die onus nou by polisiebeampte wat op die dwelms afkom om self te bepaal of die betrokke persoon die dagga in privaatheid wil gebruik of dit wil verkoop.

Die Pos het in Januarie berig oor ’n man van die Noodhulp-hoewes met 1,5 hektaar dagga wat aangekla is van die besit en verspreiding van dagga. Die man, wat die dagga in sy tuin geplant het, is egter net ’n boete van R500 opgelê en vrygelaat, maar was sy dagga-oes kwyt nadat die polisie daarop beslag gelê het.

Die Pos het ’n plaaslike daggagebruiker, wat anoniem wou bly, om kommentaar genader. Dié persoon is oortuig dat die gebruiker se keuse om die dwelm in privaatheid te gebruik, in gedrang is weens die onduidelikheid in die wet.

Sy regte, gebaseer op die grondwethof se uitspraak, word geskend indien hy aangekla word, het die gebruiker gesê.

“Daar is baie van ons wat dagga vir medisinale doeleindes, met die nodige mediese sertifikate in ons besit, gebruik,” het die persoon gesê.

“As ons gedwing word om ons eie voorraad prys te gee, skep dit juis ’n markgeleentheid om die dwelm by iemand te koop wat onwettig is. Ons wil dit nie koop of verkoop nie, ons wil dit verkieslik self kweek en self gebruik,” het hy gesê.

Die persoon het verder gesê dat van die daggaboere intussen regsadvies inwin oor wat hul regte en optrede moet wees indien die polisie hulle wil aankla en beslag lê op hulle daggavoorraad in hul tuine.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button