
Die man wat verlede week in hegtenis geneem is nadat daar beslag gelê is op 22 honde, wat vermoedelik in hondegevegte gebruik is, sou op Woensdag 17 April in die hof in Modimolle op verskeie klagtes verskyn het.
Die man, wat steeds in aanhouding is, se naam is nog nie bekend gemaak nie.
Die Wasps-veiligheidsgroep in Modimolle het die hulp van die polisie en die nasionale dierebeskermingsvereniging (DBV) ingeroep om in te gryp by ’n eiendom in Phagameng waar die honde, asook drie skilpaaie en twee varke, glo in haglike, onhigiëniese omstandighede aangehou is.
Dit het gevolg nadat ’n inwoner die probleem aangemeld het.
Die honde was meestal pitboelterriërs, bulterriërs en boerboele wat glo vol beserings was.
Die DBV het vandeesweek in ’n verklaring gesê die honde se beserings dui daarop dat hulle nie net vir honde-gevegte gebruik is nie, maar ook teen wildevarke in onwettige jagtogte moes veg.
Wendy Willson van die organisasie het gesê leerlinginspekteur Ayanda Ngcofe was in trane toe hulle die diere verwyder het.
“Spiderman, ’n pitboel, het senuagtig na sy redders gekyk vanwaar hy opgekrul in die modder gelê het. Sy beserings en die ontsteking diep in sy ore het dit vir hom moeilik gemaak om te hoor en hy kon nie mooi sien met sy beseerde oog nie. Ngcofe se gefluit het Lady, ’n pitboel-kruising wat vasgeketting was, se stert versigtig laat swaai en haar suster, Sassy, uit ’n donker hoek in haar skuiling laat kruip. Ngcofe het die kettings om hul nekke afgeknip en die twee honde het haar genoeg vertrou sodat sy hul oorlewende klein hondjies kon optel,” het sy gesê.
Die DBV het ook beslag gelê op die drie skilpaaie.
“Dié geval is net weer ’n bewys daarvan dat die mishandeling van een dier ’n aanduiding is dat ander diere ook mis-handel word en dat bykomende kriminele aktiwiteite heel moontlik plaasvind,” het sy gesê.
“Jagtogte met honde hou ’n groot bedreiging vir die biodiversiteit in die land in. Dit en die verskriklike wreedheid en die beserings wat die honde én die prooi opdoen, is die rede dat die provinsiale natuurbewaringordonansies en die nasionale wetgewing oor omgewingsbiodiversiteit, bepaal dat honde slegs met ’n permit gebruik mag word om diere wat gewond is in ’n jagtog op te spoor.”
Die nasionale dierebeskermingswetgewing bepaal dat dit ’n misdaad is om ’n dier aan te hits om ’n ander dier aan te val.
Mense met inligting kan tel. (011) 907 3590 skakel of ’n e-pos stuur aan nspca@nspca.co.za(.) Klagtes kan anoniem gelê word.