
Die eienaars van verskeie plase het, in samewerking met die Wasps-veiligheidsgroep, veiligheidskameras geïnstalleer om voertuie wat op die grondpaaie ry, dop te hou.
Die eerste van agt kameras is verlede week opgerig. Volgens Barend Pienaar van Wasps en ’n boer in die omgewing, sal daar aanvanklik agt kameras opgerig word. Die kameras word by T-aansluitings en kruisings opgerig sodat die verkeer daar dopgehou kan word. Die algehele koste van die projek beloop volgens Pienaar ongeveer R150 000.
Die kameras, wat bedags en snags werk, kan ook outomaties nommerplate herken. ’n Beheerkamer is by een van die plase opgerig, maar die kameras kan vanaf ’n rekenaar of ’n selfoon gemoniteer word.
Veiligheidskameras word landwyd deur plaasgemeenskappe opgerig om hulself teen misdaad te beveilig. Volgens Pienaar hoop hulle dat die voltydse “oog” op paaie plaasaanvalle en vee- en gewone diefstal sal verminder. Die kameras behoort binne twee weke in werking te wees.
Die installering van nog kameras word in die Groot Nyl-omgewing, by die Warmbad-skietbaan en in die Elandsfonteingebied beoog.