
’n Inwoner wat deur die reservaat gestap het, het toevallig op die grusame vonds afgekom.
Volgens sers. Frans Maponya, Bela-Bela-polisiewoordvoerder, is ’n kakebeen omtrent 5 m van die skedel gevind, asook ’n ou gordel en ’n skoen.
Die beendere is op die wal van ’n stroom wat deur die plaas vloei, gevind.
Gerugte dat ’n man in Desember 2018 in die omgewing vermis geraak het, word ondersoek, maar volgens die polisie is daar nie in dié tyd iemand as vermis by die polisie aangemeld nie, het Maponya gesê.
Volgens die polisie is die oorsaak van die persoon se dood onbekend, maar sal forensiese toetse gedoen word. Maponya het gesê die plaas het ’n veiligheidsheining en streng toegangsbeheer word by die hek toegepas.
Die ondersoek duur voort.