CrimeNews

Ou Warmbad-skouterrein hou nou gevaar vir inwoners in

Die omgewing naby die ou skougronde tussen die Bela-Mall, die Waterfront en die Bela-Bela-township, sal eersdaags skoongemaak en beboste dele afgebrand word.

Dié omgewing het ’n skuilplek vir kwaaddoeners geword en hou ’n bedreiging vir inwoners in wat daagliks daar moet verbystap om by hul werkplekke of huise uit te kom.

Die Bela-Bela-polisie het die afgelope ruk verskeie klagtes van diefstal, roof en verkragting uit hierdie omgewing ontvang.

’n Opruimingsoperasie is daarom deur die polisie, in samewerking met die gemeenskappolisiëringsforum (GPF), op Donderdag 11 Julie uitgevoer.

Volgens die polisie het een verdagte hulle tydens die operasie ontglip.

Die skougronde is jare lank vir vermaak, landbougeleenthede en die ou Warmbad-landbouskou gebruik.

Die huurkontrak tussen die skoukomitee en die Bela-Bela-munisipaliteit het egter in 2015 verval en die skoukomitee het besluit om nie dié kontrak te hernu nie. Die skoukomitee het daarna die infrastruktuur wat hulle daar opgerig het, gesloop en as skroot verkoop.

Kobus van der Merwe, gewese DA-raadslid van die dorp wat intussen na die Wes-Kaap verhuis het, het destyds aan Die Pos gesê die munisipaliteit was van plan om die grond van landbougrond na kommersiële grond te hersoneer wat die grondwaarde sou verhoog.

Daar was egter geen sprake van beleggers en ontwikkelings nie en intussen het die gras en onkruid die terrein oorgeneem. Sover Die Pos kon vasstel is daar ook in dié sta-
dium geen ontwikkelingsplanne van die munisipaliteit se kant nie.

Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, het op die dorp se laaste veiligheidsvergadering gesê die departement van plaaslike ontwikkeling is besig met beplanning rakende dié gebied.  Hy wou egter nie uitbrei oor wat die munisipaliteit beoog nie.

Voorstelle vanuit die veiligheidsvergadering was dat die bebosde gedeelte gestroop en dat die gras afgebrand word om sigbaarheid te verbeter en sodoende die veiligheid van voetgangers te verseker. ’n Dringende beroep is ook op die munisipaliteit gedoen om die straatligte in dié omgewing te herstel en ander instandhoudingswerk te doen.

’n Woordvoerder van die Bela-Bela-brandbeskermingsvereniging het in reaksie gesê hoewel die verbod op die maak van oop vure en voorbrande reeds einde Junie in werking getree het, kan ’n aansoek ingevolge die nasionale Brandwet van 1998 aan die departement van landbou gerig word om in uitsonderlike omstandighede ’n gebied skoon te brand. Hy het gesê die Waterberg-omgewing word in die winter geteister deur wegholbrande en daarom is dit belangrik dat so ’n brand goed beheer moet word.

Die vergadering het besluit dat die omgewing so gou moontlik skoongebrand moet word en dat dit onder streng toesig van die munisipaliteit sal gebeur.

Related Articles

Back to top button