
Sakeondernemings, die AfriForum-buurtwag en vrywilligers het op Saterdagoggend 20 Julie ingespring om vullis op te tel, bome af te saag en gras te sny. ’n Hele vullisstortbak is volgemaak met papiere, bottels en ander gemors.
Dié inisiatief is deel van die skoonmaakprojek wat deur AO. Pieter Booyse van die Modimolle-polisie geloods is om kriminele aktiwiteite in die dorp hok te slaan deur beboste gebiede wat as wegkruipplek gebruik word, op te ruim. Booyse is verantwoordelik vir landelike en gemeenskapsveiligheid in die dorp.
Ondernemings is genader om hulp en skenkings van brandstof vir die bossiekappers.
Die gebied om die dorpsdam is reeds ontbos en sigbaarheid is baie beter nadat ’n span, in samewerking met Working on Fire, op Maandag 10 Junie die gras en riete afgebrand het. Boomsnyers wat die hout verkoop, het die bome verwyder. Dié deel van die dorp was ’n groot kopseer vir misdaadbekamping omdat verdagtes maklik in die ruigtes verdwyn het wanneer die polisie hulle agternagesit het.
Die rivieroewers vanaf die Vaalwaterpad tot by Joe Slovostraat is volgende aan die beurt. Veldbrande wat die afgelope weke ontstaan het, het reeds van die gras in die strook afgebrand.
Inwoners wat betrokke wil raak by die projek om misdaad te help bekamp, maar ook die dorp netjies te maak, kan Booyse bel by tel. 082 850 3419.