
Die staat het sy saak gesluit teen die vyf beskuldigdes wat verdink word van die moord op Piet Venter (51) op sy plaas in Rooiberg in November 2015.
Ruben Miles, JP Johannesse, Mona Oosthuizen, Christopher Joubert (Oosthuizen se seun) en Louisa Ricco se verhoor is die afgelope paar jaar herhaaldelik uitgestel en is die laaste paar keer in Modimolle aangehoor.
Die beskuldigdes staan tereg op aanklagte van moord, huisbraak en roof met verswarende omstandighede. Johan du Toit, wat aanvanklik saam met die ander vyf aangekla is, het vir die staat getuig.
In sy weergawe van die gebeure het die ses beplan om by Venter se huis in te breek en geld uit sy kluis te steel nadat Venter nie geld vir Ricco wou leen nie. Du Toit en Joubert het vroeër albei op die plaas gewerk.
Venter is dood in sy huis aangetref waar hy vasgebind en toegerol was in ’n mat. Die nadoodse ondersoek het volgens die staat aangedui dat hy versmoor het.
Sakkie Louwrens van die Heritage Protection Group (HPG), wat op die toneel was, het op Woensdag 31 Augustus verder getuig oor wat hy met sy aankoms gevind het.
Die plaasbestuurder, Benjamin Johannes Carstens, het op Donderdag 1 Augustus getuig dat Amy Cloete en Oosthuisen se jonger seun hom en sy vrou om 23:30 wakker gemaak het om te sê Venter is aangeval. Cloete en die kind was glo saam met Oosthuizen ten tyde van die aanval in die huis. Die bestuurder het getuig dat sy woning sowat 100 m van die plaashuis af was.
Hy het getuig dat hy Venter vasgebind en toegerol in ’n mat in sy huis gekry het, waarna hy hulp ontbied het toe hy besef het Venter is dood. Twee van die kluise in die huis was oop en ’n derde een was weg. Die eerste mense was sowat 25 minute later op die toneel, waarna dit afgesper is vir die polisie om te ondersoek.
Hy het getuig dat Oosthuisen die dag vantevore by Venter ingetrek het en dat hulle al ’n ruk lank in ’n verhouding was. Sy het vantevore al ’n paar weke lank daar gewoon.
Carstens het gesê dat hy later die kluis en ’n sak met dokumente wat aan Venter behoort het, by die polisiestasie gesien het. Die hof het vroeër gehoor dat die polisie dié eiendom gevind het nadat hulle Johannesse in ’n sementdam ’n ent van die huis af vasgetrek het.
Die beskuldigdes se regsverteenwoordigers het aangedui dat hulle ’n gesamentlike aansoek om ontslag gaan indien omdat hulle voel die staat het nie die saak teen hul kliënte genoegsaam bewys nie.
Die saak kom weer op Maandag 16 September voor landdros Pieter Manthata voor.