
Planne is reeds ver gevorder om meer veiligheidskameras in die Waterberg-omgewing te installeer en sodoende misdaad hok te slaan.
Die Kariba-buurtwag het reeds in 2017 die behoefte gesien om veiligheidskameras op die pad tussen Bela-Bela en Modimolle op te rig nadat die gebied deurgeloop het onder misdadigers.
Die huidige stelsel dra die goedkeuring van die Suid-Afrikaanse nasionale padagentskap (Sanral) weg. Die inligting wat opgeneem word, word na die polisie se databasis gestuur sodat verdagte voertuie uitgewys kan word.
Die kameras wat langs die R101-pad tussen Modimolle en Bela-Bela geïnstalleer is, het volgens die polisie bygedra tot die vervolging van verskeie verdagtes en daar is ook reeds verskeie gesteelde voertuie uitgewys.
’n Vergadering met buurtwagte en belangstellendes is op Dinsdag 30 Julie by Mooiplaas, op die Eersbewoon-pad, aangebied om strategiese beplanning te doen.
Deon Beukes, voorsitter van die gemeenskappolisiëringsforum sektor 1, het by navraag gesê die betrokkenes wil graag kameras by elke dorp se in- en uitgange installeer om misdaad te beperk.
“Hoe wyer die netwerk uitgebrei word, hoe groter is die kans dat verdagtes danksy die stelsel vasgetrek word. Dit dra by tot inwoners se positiewe gesindheid en algemene veiligheid,” het hy gesê.
“Daar is talle buurtwagte in die omgewing wat van die stelsel gebruik kan maak om hul eie veiligheid te verbeter. Dit maak nie saak by wie of waar hulle geaffilieer is nie; dit is ’n veiligheidsinisiatief wat tot almal se voordeel kan wees.”
Beukes het gesê hoewel hulle van mening is dat die sentrale veiligheidstelsels die meeste voordele inhou, is hul nie gekant teen inwoners wat hul eie stelsels wil aanbring nie. Die GPF glo dat alle inligting wat bekom word waardevol is.
“Privaat kamerastelsels kan altyd mettertyd suksesvol by die sentrale netwerk ingeskakel word.”
Hy het gesê goedkeuring is reeds ontvang om ’n kamera by die Eersbewoond-pad op te rig en inwoners van Vaalwater en Modimolle het ook planne om sulke stelsels by hulle op te rig.
“’n Kamera en monteerpaal kos na raming tussen R35 000 en R45 000 en daarom is ons aanhoudend op soek na mense wat wil saamwerk om hierdie veiligheidsprojek te laat slaag.”
’n Fondsinsamelingsprojek word op Saterdag 17 Augustus by Mooiplaas gehou, het Beukes gesê.
Vir navrae bel vir Kobus Germishuys, voorsitter van die Kariba-buurtwag onder wie se leiding die projek geloods is, by tel. 081 249 4978.