
Spore in die sand en ure se geduldige speurwerk het die deurslag gegee in die vastrek van vyf mans wat vermoedelik maande lank plaaswonings besteel het.
Plase in die Modimolle-omgewing loop sedert Augustus deur onder diefstal en telkemale was die skoenspore van die verdagtes wat op die toneel gevind is, dieselfde.
Dieselfde werkswyse is ook met elke inbraak gevolg.
AO Ross Rossouw van die Modimolle-polisie het ure lank deur die beeldmateriaal van die veiligheidskameras tussen Modimolle en Bela-Bela gekyk om vas te stel of dieselfde voertuig moontlik op die dae wat die inbrake plaasgevind het, op dié pad gery het. Volgens AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, is ’n voertuig toe wel uitgesonder, danksy die hulp van Belanet Internet Solutions in Bela-Bela.
’n Span wat bestaan het uit Rossouw, AO Pieter Booyse, AO Koos van der Berg, sers. Abel Lethlape van die Modimolle-polisie, asook lede van die gemeenskapspolisiëringsforums (GPF) van Modimolle en Bela-Bela, het daarna ’n operasie beplan.
“Die vermeende diewe se roete is vasgestel en met behulp van die Kariba-buurtwag se kamerastelsel kon die span die pad op ’n strategiese plek sluit,” het Findlay gesê.
Lede van die span het daarna in die middernagtelike ure op die R101- en Eersbewoond-pad waggehou. Lede van die GPF het besef dat daar moontlik ’n tweede voertuig is wat saam met die verdagte voertuig beweeg. ’n Swart Volkswagen Polo en ’n wit Izusu-bakkie is kort daarna net buite Bela-Bela deur die polisie vasgekeer.
“Vyf verdagtes, waarvan vier van Mosambiek is, is in die twee voertuie vasgetrek. Die bestuurder van die Volkswagen Polo was ’n Suid-Afrikaanse burger. Twee gesteelde platskermtelevisies, elektriese gereedskap, ’n swysmasjien, kabels en ’n hoëdrukspuit is in die motor gevind. Agterop die bakkie was drie gesteelde motorfietse,” het Findlay gesê.
Volgens Findlay is die verdagtes tussen 33 en 35 jaar oud en woon in Ivory Park in Tembisa.
Die waarde van die gesteelde items is na raming sowat R244 800. Die inwoner van die plaas, waar die goedere vermoedelik gesteel is, was nie tuis ten tyde van die voorval nie.
Volgens Findlay word dieselfde verdagtes ook met ander inbrake in Bela-Bela en Vaalwater verbind.
Die vyf verdagtes het op Maandag 21 Oktober in die hof in Modimolle verskyn. Hulle sal weer op Donderdag 31 Oktober verskyn om vir borgtog aansoek te doen.
“Die polisie wil graag al die GPF-lede van Modimolle en Bela-Bela bedank, asook vir Adolph Vosloo van Belanet Internet Solutions en die Kariba-buurtwag. Die kamerastelsel het die deurslag gegee in hierdie ondersoek. Dankie aan elkeen wat deelgeneem het vir julle vasberadenheid om misdaad hok te slaan,” het Findlay gesê.