
Die man, wie se naam moontlik Petrus Moyana is, is vermoedelik ’n Zimbabwiër. Hy is sowat ’n maand gelede in hegtenis geneem nadat hy met verskeie rooftogte in dié omgewing verbind is.
Verskeie inwoners is sedert die begin van die jaar in die omgewing aangeval en van hul besittings beroof. Die ou skouterrein is die kortste roete om te volg tussen die Bela-Bela-waterfront, die Bela-Mall en die Bela-Bela-township.
Volgens sers. Frans Maponya, Bela-Bela-polisiewoordvoerder, was die polisie op die verdagte se spoor en het hulle hom op Vrydag 20 September in die omgewing van die skouterrein probeer aankeer.
Hy het egter op twee polisiebeamptes afgestorm en hulle met ’n mes probeer aanval. Maponya het gesê die beamptes het uit noodweer gereageer en die verdagte is gewond.
Die polisie was sedert sy inhegtenisname nie seker van sy identiteit nie omdat hy geweier het om dokumente aan die polisie te verskaf, het Maponya gesê. Daar is egter vasgestel dat sy naam moontlik Petrus Moyana is.
Sedert sy eerste hofverskyning in die Bela-Bela-landdroshof is hy ook met twee ander rooftogte verbind.
Volgens Maponya het die verdagte deurentyd mediese behandeling ontvang, maar hy het op Woensdag 16 Oktober siek geword en is in aanhouding oorlede. Die oorsaak van sy dood is nog nie bepaal nie.
’n Geregtelike doodsondersoek is sedertdien geopen om die oorsaak van sy dood te bepaal.
Volgens die polisie kon hulle geen familielid of kennis van die oorledene opspoor nie. Hulle vra die publiek om met die polisie in verbinding te tree indien hulle weet waar sy familie opgespoor kan word.