
Die portefeuljekomitees van binnelandse sake en die departement van samewerkende regering, tradisionele sake en menslike nedersettings (CoGHSTA) het op Dinsdag 22 Oktober besprekings gehou oor negatiewe gevoelens jeens buitelanders wat tot xenofobiese geweld gelei het.
Adv. Bongani Bongo, voorsitter van die komitee oor binnelandse sake, het luidens ’n parlementêre verslag gesê die onderliggende probleme word deur armoede en werkloosheid aangewakker.
Die regering sal ook beter wetstoepassing, veral wat arbeidswetgewing betref, moet toepas, het hy gesê.
Onwettige immigrante wat hul skuldig maak aan kriminele gedrag, wek tans landwyd kommer.
Volgens inligting van die Bela-Bela-polisie is ongeveer 30 onwettige buitelanders sedert September vanjaar met misdade in die omgewing verbind.
Kol. Abel Phetla, Bela-Bela-stasiebevelvoerder, het by navraag aan Die Pos gesê onwettige immigrante is dikwels by misdaad betrokke of verskaf inligting aan ander misdadigers, waarna ’n misdaad gepleeg word.
Inwoners van Bela-Bela het die afgelope tyd met skok gereageer nadat drie vermeende onwettige immigrante van Zimbabwe met die aanval op Peet Pretorius, eienaar van Peet se padstal buite die dorp, verbind is. Die drie, Noah Murimo (36), Eunice Chiruvani (40) en Daniel Manyimo (30), is kort ná die rooftog in hegtenis geneem.
Murimo was ’n tuinier en Chiruvani ’n huiswerker in diens van Pretorius.
Die drie verskyn weer op Maandag 4 November in die Bela-Bela-landdroshof op aanklagte van huisroof met verswarende omstandighede en ’n ootreding van die immigrasiewet.
Nóg ’n vermeende onwettige immigrant van Zimbabwe is ook die afgelope maand aangekeer. Hy was volgens die polisie verantwoordelik vir verskeie rooftogte in die omgewing van die ou skouterrein naby die Bela-Bela Waterfront.
Dié man, wat intussen in polisieaanhouding gesterf het, het volgens die polisie geweier om sy naam of enige ander wettige ID-dokumentasie aan die polisie te verskaf.
Luidens die parlementêre verklaring het die departement van binnelandse sake tussen April en September vanjaar altesame 11 455 onwettige immigrante landwyd gedeporteer.
“Al dié goeie werk is waardeloos indien die Grensbestuursowerheid (BMA) nie die grense beter beveilig nie,” het Bongo gesê.
Die BMA is tans besig om maatreëls in te stel om die landsgrense meer doeltreffend te beveilig. Dié proses vorm deel van die regering se BMA-wetsontwerp wat tans by die nasionale raad van provinsies (NRP) vir goedkeuring is.
Die polisie maan inwoners intussen om nie werkers sonder geldige werkspermitte in diens te neem nie. Mense wat dié wet oortree, kan ’n boete van tussen R1 500 tot R2 000 per persoon opgelê word, het Phetla gesê.