Talle vermeende wetsoortreders is op hierdie manier op Vrydag 25 Oktober vasgetrek.
Die Mookgophong-polisie, verkeersafdeling, gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en die Youth Civilians on Patrol (YCOP) het op verskeie plekke in die dorp stelling ingeneem. Voertuie is deursoek vir onwettige immigrante, ongelisensieerde vuurwapens, dwelms en padwetoortreders.
Een van die padblokkades was by die ingang na die dorp vanaf Modimolle en die ander by die ingang vanaf Spif Chickens (Nelson Mandelastraat) by Hoërskool Hans Strijdom. Die operasie het bekend gestaan as Operasie Swara Tsotsi en het van 05:00 tot 09:00 geduur.
Volgens AO George Ledwaba, woordvoerder van die Mookgophong-polisie, is hulle tevrede met die operasie en sal dit weer gehou word.
GPF-lede Philip van Staden en Kobus van Loggerenberg (voorsitter) het groot lof gehad vir die optrede van almal wat betrokke was.
Daar is altesame 156 voertuie en 255 mense deurgesoek. Altesame 12 vermeende onwettige immigrante is in hegtenis geneem en een persoon is aangekeer vir die vervoer van onwettige immigrante.
Agtien boetes ter waarde van R7 000 is uitgereik aan padgebruikers wat die wet oortree het. Een persoon is aangekeer vir die besit en handeldryf van 1,3 kg dagga en ’n ander een vir die gebruik van dagga op straat. Vier eienaars van informele winkels is in hegtenis geneem vir die verkoop van produkte wat verval het.
Daar is altesame 37 mense in hegtenis geneem tydens die operasie.
Ledwaba het wetsoortreders gemaan dat hulle nie lig daarvan sal afkom nie. “Ons is hier om misdaad te voorkom en boewe vas te trek,” het hy gesê.