
In die eerste ongeluk het inwoners verstom gekyk na videomateriaal waarin ’n vroulike bestuurder van ’n wit Toyota Fortuner talle geboustrukture van die Bela-Bela Superspar-sentrum (reg voor die Tops-drankwinkel) aan flarde gery het. Twee stilstaande voertuie is ook beskadig.
In die tweede voorval is Alet Cronjé (64) van Bela-Bela dood ná ’n ongeluk op die hoek van Chris Hanistraat en Pretoriaweg.
Meer as ’n maand ná die ongeluk by SuperSpar het die polisie steeds niemand aangekla nie. ’n Digte sluier is oor die voorval getrek en Die Pos se navrae oor wat presies dié aand gebeur het, het niks opgelewer nie. Die polisie wou geen inligting oor die vrou, wat glo van Gauteng kom, verskaf nie.
Die polisie het egter kort ná die voorval aan Die Pos gesê hulle het geen rede gevind om die vrou se bloedalkoholvlak te toets nie omdat sy nie onder die invloed van alkohol voorgekom het nie. Kol. Abel Phetla, stasiebevelvoerder, het egter die afgelope week by navraag aan Die Pos gesê dat die polisie intussen besluit het om wel ’n saak van roekelose en/of nalatige bestuur teen die vrou te ondersoek. Sy is egter nie aangekla nie.
Dié voorval het tot ’n verdere tragedie gelei toe Gerrie van der Westhuizen (64), ’n bekende in die boubedryf, op die perseel dood is toe hy besig was om ’n skadebepaling te doen. Hy het op ’n leer gestaan en die skade bekyk toe hy vermoedelik ’n hartaanval gekry en van die leer getuimel het.
Die polisie het die afgelope week aan Die Pos gesê dat hulle ook ’n saak van strafbare manslag ondersoek na die ongeluk waarin Cronjé gesterf het. Sy en haar dogter was op Vrydag 1 November in hul wit Daihatsu in ’n botsing met ’n Nissan-bakkie betrokke.
Cronjé is aanvanklik in die Warmbad-hospitaal opgeneem en daarna na Polokwane oorgepaas. Sy is drie dae ná die ongeluk oorlede.
Die bestuurder van die bakkie, wat ongedeerd van die ongeluk afgekom het, is glo van die Noord-Kaap. Volgens die polisie word daar steeds op die uitslag van Cronjé se lykskouings gewag en bykomende verklarings moet ook van getuies geneem word omdat daar glo verskeie weergawes is van wat op dié toneel gebeur het.