
Volgens sers. Frans Maponya, Bela-Bela-polisiewoordvoerder, het die polisie drie mans by ’n woning in ’n informele nedersetting aangekeer en talle vermoedelik gesteelde goedere in hul besit gevind.
Van die goedere is tot in ’n nabygeleë rivier gevind waar die verdagtes dit glo probeer wegsteek het.
Die items wat teruggevind is, sluit in grootskermtelevisies, gereedskap, skootrekenaars, klere, asook ’n windbuks en ’n .22-jaggeweer.
Die polisie is later terug na die toneel waar hulle ook op verskillende soorte patrone afgekom het.
Die drie verdagtes, Simon Sebelebele (24), Hendrik Sebelebele (28) en Samuel Maphosa (25), het reeds in die Bela-Bela-landdroshof verskyn op aanklag van die besit van gesteelde goedere. Simon en Hendrik is broers.
Volgens Maponya word die drie, wat moontlik deel was van ’n sindikaat, verbind met ander inbrake en ’n huisroof in die Langkuil-omgewing.
Die drie moet weer op Woensdag 18 Desember in die hof verskyn. Hulle bly in aanhouding.