CrimeNews

Veiligheid is die belangrikste, sê Bela-Bela-polisie

Statistieke toon dat gemeenskapsbetrokkenheid booswigte ’n gevoelige bloedneus toedien.

CrimeStats SA het onlangs die topplekke waar misdaad in 2018 en 2019 plaasgevind het, bekendgemaak.

Kaapstad, wat bekend is vir sy natuurskoon en skoon munisipale oudits, was die hoogste op die lys met 16 246 misdade wat aangemeld en ondersoek is.

In Limpopo was die toptien plekke Polokwane (7 243 misdade), Mankweng (5 699), Seshego (5 607), Thohoyandou (5 098), Mahwelereng (3 531), Lebowakgomo (3 262), Tzaneen (3 090), Westenburg (2 979), Bela-Bela (2 908) en Giyani (2 553).

Bela-Bela staan bekend as Limpopo se gunsteling-vakansiedorp, maar dit is ook die poort na die ander provinsies wat dié dorp ongelukkig ook vir booswigte gewild maak.

Veiligheidsprojekte, buurtwagte en ander WhatsApp-groepe op dié dorp het beslis misdadigers se bedrywighede in die wiele gery. Die vorige Kersseisoen het die polisie aangekondig dat daar nie een enkele misdaad in die dorp se woongebied aangemeld is nie.

Die afgelope jaar is die volgende sake aangemeld: aanrandingsake (214), roof met verswarende omstandighede (95), inbrake by wonings (426), inbrake by ondernemings (124), diefstal uit voertuie (125) en dwelmsake (599).

Die plaaslike buurtwagnetwerk het sedert 2015 só uitgebrei dat die gebied oor 11 buurtwagte beskik. Dit sluit in die RSRT-buurtwag waar die lede spesiale polisieopleiding ontvang en die nodige kennis het om tydens gevaarlike situasies op te tree.

Die gemeenskap en die polisie maak veral staat op die kennis van die Heritage Protection Group (HPG) wat sonder twyfel groot suksesse behaal in die hokslaan van misdaad.

Lede van die gemeenskappolisiëringforum (GPF) se oë is altyd oop vir verdagte aktiwiteite en laat die Whatsapp-noodgroepe gons met wenke.

Die Kariba-buurtwag het in 2017 begin om veiligheidskameras tussen Modimolle en Bela-Bela op te rig om verdagte aktiwiteit te moniteer en dié kameras was reeds verskeie boewe se doodsteek.
Die Bela-Bela-polisie het tans 22 polisievoertuie wat die hele Bela-Bela-gebied moet dien wat volgens die plaaslike polisiestasie voldoende is in die bekamping van misdaad.

Sers. Frans Maponya, Bela-Bela-polisiewoordvoerder, het gesê die reaksietyd van lede moet vinnig wees en beamptes besef dit.

Kol. Abel Phetla, stasiebevelvoerder in Bela-Bela, het gesê sy lede is ten volle gereed om misdaad in die feesseisoen, in samewerking met buurtwaglede, met wortel en tak uit te roei.

Phetla het gesê padblokkades sal meer gereeld gehou word om onwettige buitelanders, verdagtes en dronk motorryers agter tralies te kry en beslag te lê op onpadwaardige voertuie.

Hy het voorts gesê die polisie sal veral op drinkplekke fokus en gereeld besoek aflê om te bepaal of hulle lisensies het om handel te dryf.

Drankmisbruik is egter ’n groot tameletjie omdat dit tot huishoudelike geweld en verkragting lei.

Genl. Bheki Cele, minister van polisie, saam met die nasionale polisiekommissaris, genl. Khehla John Sitole, het aan die begin van Oktober die nasionale veiliger-feestyd-misdaadbekampingsveldtog van stapel gestuur.

Die veldtog sal tot Januarie duur.

Luidens ’n verklaring sal daar sterk gefokus word op verdagtes wat verbind word met rooftogte met verswarende omstandighede, misdade teen vroue en kinders, die beveiliging van landsgrense, onwettige vuurwapens en dronkbestuurders.

Die polisie waarsku besoekers aan Bela-Bela en inwoners om nie nalatig te wees nie en te alle tye waaksaam te bly.

  • Die onderskeie buurtwagte en kontakpersone vir noodgevalle is as volg:
    RSRT-buurtwag (Dorp/ sentrale sakesektor): Gerhard Olivier by tel. 079 527 9988.
    Bospoort-buurtwag: Natasja Kemp by tel. 078 777 7176.
    Roodepoort-buurtwag: Awie van Staden by tel. 082 880 8759.
    Noodhulp-buurtwag: Frik Cloete by tel. 082 951 6278 of Kobus Jacobs by tel. 082 923 2070.
    Eersbewoond RSRT-buurtwag: Deon Beukes by tel. 083 308-9502.
    Kariba-buurtwag: Kobus Germishuys by tel. 082 373 2629.
    Elandsfontein-buurtwag: Charl du Plessis by tel. 078 457 1650.
    RTL-buurtwag (Roodekuil, Turfbult, Langkuil-area): Chris Esterhuizen by tel. 082 807 7933.
    Radium-buurtwag: Emden Els by tel. 079 517 9367.
    Turffontein Plaza-buurtwag: Corrie Nelson by tel. 082 574 3811.
    D & D-buurtwag (Droogekloof en Droogelaagte): Nicolene van der Merwe by tel. 083 229 2061.
    Vogelstruispan-buurtwag: Alan van Rooyen by tel. 082 333 6613.
    Bela-Bela-polisiestasie by tel. (014) 736 9760/9761.
    APA Privaat Ambulansdienste by tel. 0860 112 911.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button