Christo Grobbelaar (60) is op Maandagaand 30 Desember na die Standard Bank-kitsbank om sy broer se pensioengeld te onttrek. Volgens Grobbelaar het hy omstreeks 20:00 by die kitsbank aangekom toe ’n donkerkleurige motor ’n entjie van hom af stilgehou het.
“Ek het nie veel aandag gegee aan die twee mans wat agter my verbygeloop het na die derde hokkie toe nie,” het hy gesê.
Die kitsbank waar hy gestaan het, was buite werking en hy het na ’n ander hokkie verskuif. Grobbelaar het die mans glo gevra of die een waar hulle is, wel in ’n werkende toestand is. Albei die mans het na hom toe gekom en begin om die kanselleerknoppie aanhoudend te druk. Een van die mans het hom gevra om sy kaart te oorhandig, maar Grobbelaar het geweier en gevra hulle moet hom uitlos. Die twee is toe daar weg.
Grobbelaar het ’n bedrag vir sy broer en homself onttrek en die geld in sy rugsak gesit. Net daarna het ’n deftiggeklede man hom genader en Grobbelaar het sy skokstok (tazer) uitgehaal en aan die man gewys.
“Ek het vir hom gesê dit is wat ek gebruik as iemand my wil beroof.”
Grobbelaar het sy rugsak in sy linkerhand gehad en was reeds by sy motor toe dieselfde man die rugsak van agter gegryp het. Die skokstok was toe reeds in die sak en Grobbelaar het probeer om dit in die hande te kry. Daar was ’n oor-en-weer geruk, maar Grobbelaar wou nie besgee nie.
Die man het die bande van die rugsak afgeruk en toe die aftog geblaas. Grobbelaar het in die proses geval en kon nie weer opstaan nie. Hy het ’n vriend, Johan Du Preez, gebel wat hom na ’n nabygeleë kliniek geneem het. Hy is daarna na die Voortrekker-hospitaal en later na die Mokopane-hospitaal oorgeplaas.
“Ek lê reeds twee week in traksie en vermoed my femur is op twee plekke gebreek,” het hy gesê.
Volgens Grobbelaar kon hy nog nie ’n klag by die polisie indien nie en geen verklarings is by hom afgeneem nie.
Kobus van Loggerenberg, voorsitter van die GPF in Mookgophong, en AO George Ledwaba, polisiewoordvoerder, het mense in reaksie op dié voorval gemaan om nie ná donker alleen van kitsbanke gebruik te maak nie.